Spasie om te dans

Die feit dat ons in ‘n ruimte met glad te veel spasie leef, kom deesdae al hoe meer dikwels voor in gesprekke tussen my en die ouman.  Vyf slaapkamers, amper drie badkamers en drie leefvertrekke is hopeloos onnodig vir net twee mense.  Ons is verby die stadium van mekaar in die huis rondjaag en ons saamtye is net te kosbaar om dit te verwyl met wegkruipertjie speel. Al positief is dat ons uit mekaar se pad kan bly wanneer ons kieste vir mekaar opgeblaas is en ons nie in mekaar se pad wil wees nie, maar selfs daardie tye het ook al getaan.

My ouerhuis was klein en knus, maar tog ruim genoeg. Elke vertrek was ‘n afgebakende spasie met ‘n spesifieke doel.  Die groen geverfde kombuisie het ‘n houtstoof in die komyntjie gehad met ‘n kastrolle-kassie langsaan;  ‘n wasbak  bo-op die kassie waarin skoonmaakmiddels, emmers en komme gebêre was; ‘n lang kas met bo-venstertjies vir breekgoed, onder-deure met gaas vir  kruideniersware en pakplek bo-op vir koekblikke. Hierdie kas het die volle lengte van een muur beslaan. Die enigste ander meubelstuk was die wakis, wat eintlik maar net ‘n sitplek was. Aan die dakbalk in die middel van die plafon het twee baldadige mandjies gehang, vir vrugte en groente uit die tuin. Neffens daarvan het die Coleman lamp saans sy skerp lig teen ‘n mens se rug gegooi het waar jy voor die stoof, of wasbak, of die kombuiskas gestaan het.

Die eetkamertjie se meubels het bestaan uit eetkamertafel, ses stoele, ‘n buffet en twee boekrakke. Almal in die huis was lesers. ‘n Battery radio was ons enigste kontak met die buitewêreld. Die twee slaapkamers had ook net die nodigste: beddens om op te slaap, spieëlkasssies met laaitjies vir opvou-klere en hangkaste vir hang-klere. Die klein voorkamertjie het net genoeg spasie gehad vir twee stoele en ‘n uittrek-bank vir ektra slaapplek. Die linnekassie in die badkamer – waarvan die toegang-deur op die voorstoep was - was die enigste ekstra meubelstuk daar. Die swart ysterkatel met die hol klapperhaarmatras in die stoepkamertjie het  addisionele slaapplek voorsien vir twee mense wie nie noodwendig puntenerig daaroor was om langs mekaar te probeer lê nie. ‘n Hangkas met vollengte spieël aan die voorkant, ‘n stoel en klein tafeltjie met ‘n kom-en-beker-stel, het voorsien in al die behoeftes van oorslaap-gaste. Die badkamer was net ‘n paar tree verder oor die lengte van die stoep, eintlik meer toeganklik vir gaste as vir die huismense!

En dit was die hele huis. Die geldjies wat my ma toegeval het na Pappa se dood het die gerief van elektrisiteit, ‘n gasstoof en -waterverwarmer, yskas en telefoon gebring.  ‘n Deur tussen die hoofslaapkamer en die badkamer  was die veiliger opsie vir drie vroumense alleen in ‘n huis. Daar was genoeg oor om ‘n klavier te koop, want ons al drie was musieklik. Om dit in die voorhuisie te kon inpas, was dit nodig om die ou, verbleikte slaapsofa en stoele met ‘n  meer nuwerwetse tweesitplek-bankie en een stoel te vervang, tot groot vreugde van twee rooi-haakskeen-dogters.

Elkeen van daardie vertrekkies het hul eie dinamika en dissipline gehad.  Tussen elkeen van die vertrekkies het ‘n orde en ‘n protokol geloop.  Daar was ‘n tyd vir kombuiswerk; vasgestelde etenstye, koffietye en ‘n badkamer-skedule soggens en saans. Niemand is aan die etenstafel toegelaat met deurmekaar hare nie. Hande en voete moes by die buitekraan gewas word voordat ons kon aansit.  Elmboë bo-op die tafel was heeltemal taboe.  Kinders moes met hul hande onder die tafel wag totdat Moeder almal se kos ingeskep het, Vader gebid het en dan nog mog ons nie begin eet voor ons ouers nie. Na aandete het almal bly sit vir die aandgodsdiens.

Waar het ons driekwart van hierdie dissipline verloor?  Het dit dalk verwater geraak met die koms van groter en ruimer lewensspasies? Toe een badkamer skielik te min geraak het vir een gesin? Toe mure afgebreek is tussen die kombuis, eetkamer en leefvertrek? Het ons dalk emosioneel van mekaar begin wegleef omdat ons die radius van ons eie, intieme lyfspasie wou vergroot?

Hier sit ek en Pa nou,  ons lyfspasies papiedun,  maar met leefruimtes  vir ‘n nasie. Dis dalk nou die aangewese tyd om ons dansskoene uit die bokse bo in die kas te haal! 

 Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1