Valentyn is 'n grys, ou mannetjie

Die eerste gedagte aan rooi harte, teddiebere en rooi rose het my getref toe ek een Maandagoggend heel per ongeluk oogkontak maak met die jong boertjie wat sy boetie met die groot, wit GMC bakkie skool toe gebring het.

Ek het geweet wie hy was, sy waterpas skouers en smal heupe bewonder wanneer hy vir die dorp se rygbyspan op die veld gedraf het, of wanneer hy Sondae die kerk ingestap het. Daardie oggend het ek vir die eerste keer kennis gemaak met die diepgesonke fletsblou oë bokant die prominente wangbene. Daar was ‘n sagaardigheid in daardie oë, ‘n skrille kontras met die gehardheid van sy songebrande gelaat en songebleikte blondekop.

Hy het my getref soos die held in ‘n Susanna Lingua liefdesroman, wat ek op daardie stadium van my ontluikende vroulikheid verslind het.  Ek was  maar in standerd sewe en dertien jaar oud, ‘n totaal onbevoegde, onbehoorlike en onbetaamlike ouderdom om volgens my instinkte te handel. Vir twee jaar lank groet ons mekaar op ‘n Maandagoggend, of dalk nie. Ons groet mekaar op ‘n Saterdagaand by Bredasdorp se fliek, of dalk nie.  Soms het hy ‘n meisie by hom, soms nie. Maar hy word vir my al hoe aantrekliker. Ek sien meer beertjies, rooi harte en rooi rose. In standerd nege reël ‘n klasmaat dat hy vir my en Sus na en van die na-atletiek-partytjie by hulle huis vervoer. Die ys was gebreek en ons begin saam uitgaan, as maats en saam met maats.

Toe ek na matriek in die Kaap gaan werk, bevind ek my in ‘n ander wêreld, maar  elke naweek as ek huis toe gaan, is die boerseun daar. Vrydagaand om my by die bus te gaan haal, tot Sondag om my weer by die bus te besorg, met onderbreking van soggens en saans se melktye op die plaas. Namate ek aan die Kaapse tempo gewoond geraak het, offer ek my tuisnaweke op vir die bywoning van ‘n opvoering in die Nico Malan of ‘n deftige dans in Youngsfield se menasie. Dit het die blou-oog ook nie gekeer nie. Ek was boos toe ek die eerste keer om middernag in my kamer kom en my kamermaat my wys waar sy motor in die parkeerarea staan – al van tienuur af. Heeltemal teen die reëls van die koshuis, moes ek spesiale verlof in die register aanteken om daardie tyd van die nag uit te gaan na hom toe om hom duidelik te laat verstaan in watter verleentheid hy my stel. Ek het hom letterlik weggejaag; die eerste van ‘n hele paar kere deur die verloop van ons verhouding – as ‘n mens dit so kan noem. Tog het ek nooit opgehou om te hoop vir ‘n teddiebeertjie of ‘n kaartjie met ‘n rooi hart op van hom af nie.

Die man het net nooit einde gehad nie. Hy het my opgepas soos ‘n geheime lyfwag, van Napier af tot in die Kaap. Vir ses jaar lank het ons gedwarrel soos ‘n veertjie wat telkens, net voordat hy die aarde raak, weer deur ‘n lugstroom hoër op meegesleur is. Hy het elke moontlike kans om ‘n verhouding met iemand anders te bou, in die wiele gery, maar self het hy nooit ‘n verbintenis met my verwoord nie.  ‘n Paar dae kort van agt jaar sedert ons die eerste keer saam uitgegaan het, met die soete reuk van ‘n bos aandblomme op die agtersitplek van sy motor, sê hy: “Kan jy dit nie verstaan nie....ek wil met jou trou! “  Die wind was so uit my seile dat ek, in plaas daarvan om rooi hartjies om my te sien fladder, optree soos ‘n stier ten aanskoue van ‘n rooi vlag. Ek gaan haal my argument doer vêr en kap die geleenthede wat hy gehad het en die geleenthede wat hy my laat misloop het op my vingers af. Totdat hy met ‘n woede in die grondpad stop,  my één kyk gee met daardie blou oë en my asem wegsoen – soos die held in ‘n Susanna Lingua liefdesroman.

Dit is vyftig jaar na daardie eerste uitgaan en Valetyn is ‘n ou, grys mannetjie. Ek wag nog steeds vir ‘n hartjiekaartjie, ‘n teddiebeert of ‘n bos rooi rose, maar ek het so oneindig meer as dit gekry: ‘n huweliksertifikaat met hoogtepunte en laagtepunte, kinders en kleinkinders so sag soos teddiebere en ‘n groot bos getroue en onwankelbare liefde.

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1