My mond is figuurlik soms net té groot. Ek praat soms net té vinnig. Tog kom daar tye in ‘n mens se lewe dat dit ‘n bate kan wees.
Kort na ons troue het ons ‘n pleegkind gehad: ‘n aangenome familiekind van wie albei ouers toe oorlede was. Sy skatryk voogde het nie kans gesien vir hom nie.Maatskaplike Dienste het, van al die ander familie, vir ons uitgesonder as die mees geskikte pleegouers. Ek was glad nie daarvoor gereed nie, want my eie kind was toe nog in doeke en hierdie pleegkind het op die rand van sy rypingsjare gestaan. My man se woorde: “Dit kan met ons kind ook gebeur” het die pendulum vir my geswaai en my laat swig voor die druk. Sy aanneem-ma het van hom ‘n dogtertjie gemaak - ‘n mens kon nognie die geslag van jou aanneemkind kies nie - deur hom met al wat vroumensgoed is te laat speel. Dit het hom op die verkeerde seksuele spoor geplaas...
My hart het gehuil vir hierdie kind. Van babatyd af was hy en sy ma onafskeidbaar. Hy was‘n toeskouer tydens dronkpartytjies, besope seks, vloektaal en aangeklamde hardhandigheid. Gedurende die week was hy in die koshuis, maar naweke het ons hard probeer om van hom ‘n seun te maak. Wanneer hy nie saamgery het op ‘n trekker op die land nie, het hy egter met ‘n stuk lap bo-op ‘n oliedrom staan en wriemel of homself in sy kamer toegesluit, iets wat die maatskaplike werker gesê het ek maar moet laat begaan. Saans kon geen mens hom uit die badkamer kry nie en met die tempo waarteen my grimering minder geraak het, het ons die rede daarvoor besef.Ek en hy kon lekker openlik gesels en ek het hom geglo wanneer hy gesê het hy wil graag soos ander seuns wees.
Terwyl ek een Maandagoggend sy bed opmaak, kom ek onder die matras op ongure leesstof af : verskeie uitgawes van ‘n weeklikse gay-koerant, nogal die eerste van sy soort in die Kaap, word dit trots op die voorblad vermeld. Die goed wat ek daarin lees, laat my hare rys. Vieslik! Daar is ook ‘n groterige, plat karton koevert aan hom geadresseer per adres van sy voogde. Nadat ek van die intense naar ontslae geraak het, skraap ek die moed bymekaar om die karton koevert oop te maak. Dit bevat ‘n koffietafel fotografie-boek met kaal mans wat in al wat kunstige posisies uit die glansblaaie staar of skalks koekeloer. Geadresseer aan en die eiendom van ‘n elfjarige seun! Dit was my grootste skok! Wat daarna tussen my en die maatskaplike werker gesê is, kan ‘n mens nie oorvertel nie.
Sowat drie jaar later, met Pleegkind op ‘n ander dorp en onder die invloed van die voogde uit, stap ‘n jong man by die vertoonkamer van die damesafdeling van die winkel waar ek werk, in. Ek sien oombliklik die foto van hom in die glansblad album waar hy nakend op sy maag op ‘n nat rots lê en verleidelik oor sy skouer na die kamera(man) loer. “Oh my goodness!” sê ek, “I remember your face from a naked picture I once saw....” en wens ek kon my woorde uit die lug teruggryp. Met gekontroleerde verbystering op sy gesig stel hy homself aan die ander dames voor as die nuwe Playtex verteenwoordiger. Toe hy sy hand na my uitsteek, probeer ek my blaps versag met: “But it was very artistic, though..” Hy en sy vrou het saam besluit het oor die aanbod om as model op te tree en dit het hulle bankbalans aansienlik verstewig. Hy het ook so pas vir die eerste keer pa geword het van ‘n seuntjie – die mooiste in die wêreld. Natuurlik! “Congratulations” sê ek, “I hope you will by equally elated to know that I found the book in which you featured, in the hands of my eleven year old foster son, who’s obviously way off the straight and narrow. May your own son never lay his sweet eyes on something similar.”
Pleegkind was op ‘n stadium ‘n bekroonde, jong ontwerper, maar ‘n permissiewe leefstyl en kaviaar-partytjies het sy tol geeis. Hy is ‘n paar jaar gelede aan VIGS oorlede.
Carine Badenhorst