Die bruid moes pienk gedra het

Dekades gelede staan ek saam met my ma en ander familie by die hekkie van ‘n kerk en kyk na die bruid en bruidegom wat so pas buite die deur verskyn het. Klaar getrou. Soos ek my herinner was ons om een of ander rede te laat vir die bevestiging. My ma en tannie was verbaas oor die bruid se kleurkeuse vir haar rok. “ Hoekom dan tog ‘n wit rok? Hoekom nie liewer ‘n baie ligte pienk nie?” Ek verstaan niks daarvan nie, want as ‘n bruid trou, dan dra sy wit. Niks anders nie. Vra durf ek nie, want as grootmense in gesprek is, praat ‘n kind nie. Maar dit pla my en by die huis dring ek oor tyd aan op ‘n antwoord. Die “hoekoms” was vir my nog altyd van groot belang. Later van jare is ek ge-etiketteer as ‘n rebel, maar dit het niks te doen gehad met die doelbewuste teengaan van reëls en regulasies nie. Ek het die “moenies” en die “nee’s” op die proef gestel om die uitwerking daarvan te kon bepaal, want niemand het ‘n motivering vir hierdie woorde verskaf nie. Die antwoorde op my “hoekom”-vrae was gewoonlik: “Omdat ek so sê” en dit was eenvoudig nie goed genoeg vir my nie.

Nadat ek my ma lank genoeg verpes het oor die pienk bruid, kon sy dit oor haar lippe kry om my te vertel van kinders buite die huwelik en die Magdalena Tehuis vir Ongehude Moeders. Dit was skrikwekkend genoeg om te dien as ‘n sede-les wat ek styf teen my hart gemessel het.

Dit was ‘n bitter groot skande, nie net vir die aspirant moeder nie maar ook vir die hele familie. Dit was ook ‘n groot verleentheid vir die aspirant-pa en sy naastes. En dit was ‘n hartseer-saak. My ma het my vertel van ‘n verpleegster vriendin van haar wat dieselfde ding oorgekom het en hoe dit haar emosioneel geteister het vir die res van haar lewe. Toe ek, ook baie jare later en met ‘n kindjie van my eie, my ma op ‘n dag Stellenboscch toe neem om hierdie vriendin te gaan besoek, het die storie wat ontvou het, my aangegryp. Die ma en pa van hierdie onbeplande en ongewenste baba is uiteindelik getroud nadat die pa uit die oorlog teruggekeer het, maar hy het nooit van die dogtertjie geweet nie. Saam het hulle twee pragtige seuns gehad. Eers in hulle herfsjare het die ma haar geheim met die pa gedeel. Hulle het die dogter in Suidwes opgespoor en op daardie stadium met mekaar gekorrespondeer. Of hulle ooit ontmoet het, weet ek nie.

Toe ek onlangs by die bruid wat pienk moes gedra het, se sewentigste verjaardagpartytjie instap, stel sy my voor aan ‘n vriendin wat ek nog nooit gesien het nie. Na die oor-en-weer-groetery vertel sy my dat dit haar dogter is. “ Haai, ek wou al soveel kere vir jou gevra het hieroor” sê ek en sy steier van verbasing dat ek daarvan weet.  Behalwe een van haar sibbe wat geweet het, het sy die res van hulle maar op haar verjaardag eers daarvan vertel. Dit was ook die eerste kennismaking van haar eie kinders met hul halwe suster.

My sintuiglike waarneming verskuif. Van verjaardagvieringe na die vreugde van hereniging. Die moeder in my beweeg in ‘n totaal ander dimensie. So ook die emosionele sibbe-verbinding met iemand wie se bloedplaatjies ‘n groot deel van jou eie DNA materiaal, die stof van dieselfde erflike eienskappe, bevat. Die ambience in die vertrek waar ons almal saam kuier, is die van geborgenheid van familie. ‘n Onopgesmukte, natuurlike gemaklikheid met mekaar, asof daar nooit enige verwydering was nie.  Die chakra vloei in  skakerings van groen. Daar heers ‘n ontspanne atmosfeer van balans, vernuwing, vrede en harmonie, sonder enige aansit of oordaad. Niks is kunsmatig of skynheilig wanneer Boeta met sy hande op die skouers van sy nuwe suster vir sy ma dankie sê vir haar nie. Dis ‘n oomblik in tyd wat plaasgevind het presies soos wat dit bestem was.

Die bruid is heel gepas op hierdie dag in pienk geklee – uiteindelik. Vreugde en innerlike vrede het die skande oorwin. Die kleur van moederliefde, volmaak in hart en siel, is pienk.

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1