Die Voldaantjie

Ek staan nou eendag en kyk na die gewerskaf in die Gansbaai hawe. Half vergete tussen al die onooglikhede staan ’n kalksteen geboutjie van vanmelewe. Ek kyk weer na die  stukkie van ou Gansbaai wat behoue gebly het en dink terug ------. Dis 1960, ek staan as 10 jarige seun in ’n ry tussen geharde vissermanne voor die einste geboutjie. Daar is nie lelike advertensieborde op die wit kalksteen mure nie - dit is die betaalkantoor van die Korporasie!

Dit was ’n goeie week vir die vissermanne. Gelukkig is dit vakansietyd en kon ek deel in die onverwagse Geelbek loop die afgelope paar dae. Net gister nog het ek en oom OuHans ons vis by oom Tippie by die groot skaal gaan inweeg. In my hand, nog blink en seer van gister se handlyn gestoei met die hangpense, hou ek ’n papiertjie vas. In ou Gansbaai taal het die stukkie papier ’n naam gehad - dit is jou voldaantjie. Die Tweetalige Afrikaans-Engels Woordeboek vertaal Voldaan as “content, satisfied, paid, receipt.”

Ek skuifel vorentoe en gee my voldaantjie vir die tannie en ‘n transaksie vind plaas. Die korporasie tannie is tevrede dat my bewys eg is. Oom Tippie se gewigte van elke vissoort word in geld omskep. Die voldaantjie het sy werk gedoen. Die voldaantjie was egter baie meer as net ‘n stukkie papier. Dit was in vandag se taal die ou Skippers en vissermanne se volle salaristjek. Harde werk, seer skouers, stukkende hande is alles vergete sodra die transaksie plaasvind. Die uitstaande “groceries” rekening by oom Willie Swart se winkel kan betaal word. Dalk is daar nog ‘n paar sjielings oor vir vleis by Stehle se slaghuis. Ai, en ek wil so graag elke maand ‘n pond of meer eenkant sit dat die kind van my Matriek kan gaan maak, hoor ek een van die vissermanne agter my sê.

Die voldaantjie het vir elkeen afsonderlik ‘n hele stuk lewe beteken - noodsaaklikhede, begeertes, versugtinge en ook ‘n stil Dankie aan die Groot Skipper vir hierdie week se Geelbek. Wat het die voldaantjie vir my beteken? My Ma was nie iemand wat emosie in mooi woorde kon uitdruk nie. Haar oë het alles vertel. Ek onthou wat ek in daardie swaar, wonderlike kinderdae in haar oë gesien het toe ek die voldaantjie se papiergeld en muntstukke in haar hand gesit het --- liefde, dankbaarheid, deernis en daardie alomteenwoordige sekerheid dat die Groot Skipper altyd sal sorg dat as die nood op sy hoogste is, die uitkoms die naaste is.

(Sien vorige berig oor Philip Fourie se WAT-borgskap van die woord “Voldaantjie” - Red.)

Philip Fourie

 Die kalksteengeboutjie van vanmelewe in Gansbaai hawe