'n Paar sent kort van 'n rand

In die knusse holte van my grootword-dorp het die forse Koos Lourens vir jare lank ‘n winkeltjie gehad. Koos Jood, het hulle hom ook genoem, want van kibbel oor pryse kon niemand hom iets vertel nie. Hy het hierdie uitdrukking gehad van mense se koppe wat “tien sents kort van ‘n rand” is. Elke dorp het destyds ten minste een van hulle gehad; Napier was sommer ‘n nes met goed ‘n halfdosyn van hierdie weglê-kuikens wat nooit ten volle die verskil tussen ‘n mieliepit en die gruis van ysterklip geken het nie. Malletjies. Vandag sien ‘n mens hulle nie meer in die publiek nie. Is daar te veel versorgingsplekke vir diesulkes? Word hulle sommer van kindsbeen af al uit die samelewing verwyder, of is Gansbaai net gelukkig genoeg om net honderd-sent-in-die-rand-mense te kan hê? Selfs tydens my eie kinders se grootword-jare op Bredasdorp, was daar niemand teen wie ek hulle sou wou waarsku nie. 

Mal Kerneels (Grundlingh) op Bredasdorp was so ‘n armoedige van siel, maar met die kostelikste stories uit ‘n ryke verbeelding. Kerneels het met sy kruiwa geloop en besigheid doen in die strate: hout en waterblommetjies wat hy op die omliggende plase gaan “oes” het en met sy fiets aangery het dorp toe.  So vertel Kerneels hoedat hy eendag deur die boer uitgevang is terwyl hy nakend besig was om waterblommetjies te steel. Hy was te vinnig vir die boer se karwats, maar toe die man hom met sy bakkie begin jaag, toe hardloop hy éérs – baie vinnig en poedelnakend.

 In sy eie woorde: “En wee’ jy, jy sal my nie glo nie, toe ek so afkyk, toe slaat daai spiedometer so dertig...veertig! En wat sê jy daarvan?”  Mense het met hom gespot, soos die keer toe ‘n paar manne hom vertel het van ‘n verlore skat en Kerneels met sy kaal hande in die grond begin grawe het. Hoe dieper hy gegrawe het, hoe meer geld het die toeskouers oor sy skouer in die gat gegooi. Kerneels was naderhand berserk, want hy was baie lief vir geld. Nie sommer net nie, maar omdat hy aan die lewe moes bly.  Op Napier was hulle egter nie so mak nie. Twee huise van ons af het Mal Katrina gebly. Sy was in totale disharmonie met haarself, die natuur en alle lewende wesens. Vyftig, sestig, soms tagtig sents kort op ‘n rand. Haar verstandstoornis sou net met ‘n Richterskaal gemeet kon word. Om te probeer om haar naby ‘n elektro enkefalogram te kry, sou ‘n fatale poging vir mens sowel as toestel wees. Haar voordeur was verskans agter amandelbome en alhoewel ‘n mens haar nooit gesien het nie, het sy presies geweet wie in die straat verbystap. En sy het iets vir elkeen te sê gehad. Soms net ‘n gemompel, maar meeste van die tyd in skel- of vloektaal oor een af ander ding wat haar verwronge siel binnegedring het. Terwyl haar pa siek was, kon sy op sekere dae my ma se wit verpleegstersuniform verdra wanneer sy gaan huisbesoek doen het; ander dae het sy vir Mamma sommer van die voorhekkie af weggeskel.

Terwyl die seuns haar geterg het deur klippe op haar huisie se dak te gooi, het ek vir haar – net soos vir Mal Dinatjie van Tamatiekraal – ‘n deernis in die hart gevoel. Foeitog, as hulle kon kies, sou hulle nie so wou gewees het nie. Alhoewel ons aangesê is om nooit met Katrina te praat nie en om in die huis te wees en die deure toe te maak wanneer ons haar in die straat gewaar, het ek tog een keer daardie reël oortree. Sedert haar pa se dood ‘n paar weke vroeër het ek haar nog glad nie gesien nie. Met ‘n stuk van die orige naweek-koek in ‘n bordjie, het ek omgestap om net vir haar te gaan sê ek weet hoe swaar dit is om ‘n mens se pa te verloor. Met my hart wat in my keel tromslaan, het sy opeens tussen die amandelbome voor my verskyn.  Ek het my storie afgebrabbel en toe ek na haar opkyk, kon ek deur haar trane sien sy was op daardie oomblik net ‘n paar sents kort van ‘n rand.

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1