Predikante

Predikante, so het ek in die skool geleer, kan twee dinge wees.  Die mees algemene predikant was die een wat in daardie tyd met ‘n wit strikdas en borsie onder ‘n swart toga, elke Sondag op die kansel gestaan het. Die ander predikant was ‘n bordjie langs die pad, met ‘n skerp punt aan die een kant, wat die weg aangewys het. Dit was nie moeilik om te onthou nie, want albei het dit ten doel om die pad aan te wys; een fisies en een spiritueel; een stil en staties, die ander luid en beweeglik. Selfs in die gepunte vorm was daar ooreenkomste. Menige predikant wat die kansel van Napier se kerk bestyg het,  nadat hy eerbiedig op die eerste trappie sy hoof gebuig het, het die sondes van die gemeente met ‘n stokstywe wysvinger uitgewys. Nie name genoem nie, maar daardie vinger het die sondaar so onbetwisbaar uitgewys dat selfs die gemeente se koppe soos die van een man in daardie rigting gedraai het, want, tipies kleindorp, het almal van alles geweet.  Die boodskap was dus klokhelder aan die oortreder van sedes oorgedra:  stop dit, of jy word onder sensuur geplaas.

En sensuur was ‘n verskriklike skande. Om ‘n kerk belet te word, was baie erger as dat iemand jou op heterdaad betrap het. Die uitgeworpene is ook nie sommer net in die buitenste duisternis gelaat nie. Tydens die sensuur-tyd het die predikant die persoon ernstig bearbei tot skulderkenning, boetedoening, vergifnis en verootmoediging voordat hy weer op ’n
Sondag sy  sitplek as gereinigde en toegewyde kerklidmaat kon inneem.  Soos ‘n goeie herder sy dwalende skaap na die kudde teruglei.  So hoog as wat die predikant bokant die gemeente uitgetroon het terwyl hy op die kansel gestaan het, so hoog was hy in die openbaar aangeslaan. Buiten Sondae in die kerk het ‘n mens het hom net by basaars, in die skoolsaal en openbare geleenthede gesien waar dit nodig was dat hy die verrigtinge met skriflesing en gebed  open. Wanneer jy sy kar voor ‘n huis sien staan het, het jy geweet daar was siekte, of dood, of dat hy en die ouderling besig was om huisbesoek te doen. Op ‘n stadium het ek vir my ma gevra wat predikante eet, omdat ek nog nooit iemand van die pastorie in ‘n winkel gesien het nie.  “Hulle eet kos wat die gemeente vir hulle gee” was haar antwoord. En ek het gedink:  dis seker hoekom mens hulle nooit sien nie, hulle is seker honger en bid vir kos.

Napier se kansel het ‘n ryke verskeidenheid van predikante gehad.  My  ma het vertel van Doktor Nepgen wat nie geskroom het om name van die kansel af te noem nie. Hy het die duiwel sonder handskoene aangevat.  Johan Kayser was ‘n lang en forse proponent met swart hare en snor. Imposant en met ‘n welluidende artikulasie wat ‘n mens gedwing het om na hom te luister. Op pad om as volwaardige leraar ge-orden te word, het hy seker maar sy gehoor van die kansel af staan en takseer om vas te stel of hy ‘n gemeente vir twintig minute aaneen kon boei.  So preek hy tydens een aanddiens: “ wonderwerke gebeur daagliks, hier in jou en my midde.. julle vyf seuns daar agter, ja julle (vingerwysend) wat dink dit is ‘n grap, verlaat asseblief nou die kerk, nóú!”  Die seuns is vort en ek hoop van harte meneer Kayser kon later “Ds.” voor sy naam teken.

Tydens die onlangse negentien-uur-lange kragonderbreking grawe ek en die ouman tussen die ou koeie in die sloot.  “Onthou jy nog.......” vra hy. Ons het saam met ‘n jong predikantjie hier op Gansbaai aangeland en tydens sy tweede, jaarlikse huisbesoek, vra hy die vraag wat hy maar by elke huis gevra het: “Is daar enigiets wat julle op die hart het?”  “Ja, Dominee, my man slaan my mos vreeslik” lieg ek.  My man was in ‘n vryval derduisende kilometers hoog bo die vastigheid van Moeder Aarde – sonder ‘n valskerm. Die arme predikantjie se predikant het vertikaal na onder gewys; hy het geen plek gehad om heen te gaan nie.   Sy verligting, nadat ek hom reggehelp het, het hom laat vra vir nog ‘n koppie tee met ‘n ekstra teelepel suiker!

Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1