Groente in die kooi...?

Groente in die kooi...?

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Gaan mense na ‘n dokter toe omdat hulle siek voel, of omdat hulle bang is dat hulle dalk  mag siek wees of dalk nog op pad is om  siek te word?  Ek was seker maar as kind te veel deur my ma en haar dokter-baas beïnvloed, want  ek moet regtig sommer swaksiek wees voordat ek gedagte aan ‘n dokter kry. In ons huis was ‘n kinderkoors van 104 grade Fahrenheit, wat nie met ‘n skuitige dop kasterolie gebreek kon word nie, miskien ‘n doktersondersoek werd.  En selfs dan was ‘n Streptomycin of Penicillin inspuiting  of twee genoeg om die olikheid te genees. Ons het nie pille in reekse gedrink nie; daarom dat ek tot vandag toe ook geen pille-mens is nie.  Moeder het altyd gesê ‘n mens dink jouself siek en sy het haarself, as gevolg van haar moeilike omstandighede, as voorbeeld geneem.  Gedurige kommer en stres is die grootste gif vir enige liggaam en die pilletjies is net krukke om die simptome te verlig.  My ma se afhanklikheid van anti-depressante  het my as tiener geweldig ontstel en ek glo dat ek onbewustelik ‘n renons daarteen ontwikkel het, alhoewel ek haar situasie verstaan het. Om daardie rede het ek die holistiese en spirituele roete verkies, eerder  as om met elke pyntjie en vreemde gevoelte dokter toe te hardloop.  Deur net te luister na wat ‘n mens se liggaam vir jou sê, is dit moontlik om verstellings te maak om weer op die regte pad te kom.  Uiteraard verg dit ook kennis, maar  kennis is my kos;  ek is die ewige student, die een wat nooit sal graad vang nie, omdat ek ‘n lewenslange kursus volg.

Met die ouderdom saam kom daar onvermydelik dinge soos chroniese medikasies as gevolg van ‘n vroeëre ongesonde leefstyl.  En daar gebeur ‘n natuurlike degenerasie van die liggaam en sy funksies. Dit is ‘n gegewe wat niemand  kan vryspring nie. Niemand bly vir ewig jonk nie, al dwing mense hulle ou liggame in uitmergelende driekamp-byeenkomste in en al drink hulle die duurste voedselaanvullings onder die son.  Ek het ‘n broertjie dood aan mense wat in hulle herfsjare sit en wag vir die swart kombers om op hulle te val.  ‘n Mens moet jouself aanhou uitdaag, jou liggaamlike en verstandelike grense ‘n bietjie strek,  maar sommiges vat dit net té ver, asof hulle wil bly klou aan ‘n aardse lewe.  Dit gaan net nie gebeur nie.

My ouman het vroeg in sy lewe al moeilikheid met gout opgetel. Hoe meer ek hom gemotiveer het om die oorsaak vir homself uit te werk, hoe meer pille het hy gedrink. Dis tóé dat ons begin om saam met groentes te slaap. Die eerste was warm koolblare, met ‘n verband  om die pyngedeeltes vasgedraai, wat ‘n paar kere gedurende die nag vervang moes word.  Toe vertel iemand vir hom dit moes yskoue koolblare gewees het en my nagtelike voorbereiding verskuif van die ketel kookwater na die vrieskas.  Die volgende groente-remedie  was om deur die nag te detoks met gerasperde aartappel onder die voete. Die konglomerasie van lappe en sokkies en ou, geknipte handdoeke was binne die eerste uur van sy voete af, die hele bed vol aartappel.  Rustelose bene.  En ‘n paar aartappels minder vir die pot. Oplettend soos ‘n vrou maar is, het ek later ‘n paar kosse herken as oortree-kosse en ons dieet baie subtiel aangepas. Met sukses – vir hom.

Maar toe begin ek self pyne kry! Ek gaan slaap met aartappels in my bed, sommer ook die twee pers oermoere wat die baas my gegee het. En ek sny ‘n ui halfpad deur en sit dit op my bedkassie vir die sinuspyn wat my twee dae lank al teister.  Die aartappels hou my meer uit die slaap as die pyn en na nag een, wat veronderstel was om vyf nagte te wees, gooi ek hulle uit die kooi en drink  twee Panamors.  Die ui het hard probeer, maar hy sou nooit hond haar-af gemaak het nie, want die “sinuspyn” se oorsaak was toe al die tyd ‘n te stywe kussing.

Groente hoort seker maar net nie in ‘n kooi nie en ‘n paar pilletjies op hulle tyd het ook ‘n plek in ‘n sogenaamde holistiese benadering tot gesondheid. Ek sê mos ek leer........

Carine Badenhorst

Groente in die kooi...?

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

COMING HOME TO YOURSELF

COMING HOME TO YOURSELF

At the heart of all these conversations lies a single truth.

Ready for Adoption - Meet Benso

Ready for Adoption - Meet Benso

Benso is a sweet male dog, about 2 years old, and he is now ready to find his forever home.

BARC Animal Welfare
Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

A successful day on the water with plenty of marine life to keep us company at the dive site! 

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

As awareness grows, something interesting begins to happen.

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Power interruptions can bring work to a standstill, disrupt events, and create costly delays. 

Coastal Hire Gansbaai
Creating Opportunities for Youth

Creating Opportunities for Youth

Today's update from Grootbos Foundation is from the Employability Team...

Grootbos Foundation
See All Articles