Lens of kwas

Fotografie was ‘n suinige luukse in my kinderdae.  Die boks-kamera wat iewers diep in ‘n kas in ons huis weggesteek was, is net by baie spesiale geleenthede uitgehaal. As gevolg daarvan was daar seker maar een keer per jaar – indien dit ooit só dikwels was – ‘n film ontwikkel.  Ek reken ek was so twaalf jaar oud toe ek my eerste kamera gekry het. ‘n Swart plastieknommertjie, Kodak Instamatic 404. 

Dit het net swart en wit fotos in daglig geneem. (Nie regtig nie, maar dit is soos wat dit aan ons voorgehou was) Die fotos was sulke vales met buite-fokus kolle reg in die middel en ‘n mens moes ‘n lange twee tot drie weke wag vir die ontwikkeling daarvan. Dat ek nou nog van sy fotos het, is bewys dat hy tog nie sy doel gemis het om herinneringe vas te lê nie, hoe eenvoudig ook al.  En toe raak ons slim en kom agter dat daar so iets soos Magicube flitse bestaan wat dit moontlik maak om in die donker fotos te neem. Dit was ‘n groot aardigheid, maar ons is drasties ingekort met die koop van Magicubes omdat dit die batterye te gou uitgeput het. 

Ek het egter elke Saterdag by oom Bennie se winkel gewerk vir my eie sakgeld; dus kon ek die flitse meer geredelik bekostig. Volgende op die lys was my Kodak Trimlite Instamatic 18 kamera waarmee ek fotograaf gespeel het  by twee van my skoolvriendinne se troues, nogal in skyfie-formaat. Nog later het ek ‘n Polaroid aangeskaf, ‘n prettige stukkie toerusting om oombliklik die vaslegging van ‘n geleentheid  met vriende te kon deel, maar so bonkig dat ‘n mens hom ook nie oral kon saamneem nie. Die fotografie-gogga wat my lankal gebyt het, se gif het eers behoorlik begin trek toe ek ‘n 35mm kamera gewen het in ‘n landwye kompetisie vir winkeluitstallings wat deur Anchor Yeast geloods was. Die fotos wat daardie kamera gebaar het, het my vir die eerste keer laat besef dat fotografie ‘n kuns op sy eie was. ‘n Mens moet eerstens jou kamera ken en om vertroud te raak met al die verstellings, was ‘n kreatiewe reis op sy eie. Uiteraard het ek dan ook begin om  onderwerpe af te neem wat ek  later sou skilder.So lees ek my onlangs vas in ‘n vurige pennestryd tussen fotograwe en skilders. Die polemiek het ontstaan toe ‘n skilder van ‘n fotograaf toestemming gevra het om een van sy landskapfoto te mag skilder.  Tipies van ons Suid-Afrikaanse Afrikanerdom, spring Jan Rap en sy maat op hul perdjies oor die gebrek aan kreatiwiteit vir ‘n skilder om iemand anders se kunswerk “af te rokkel” en “met sy kalwers te ploeg.” 

Dit gons oor die duur fotografiese toerusting en ure wat in die wind en weer deurgebring word om die perfekte foto te kry.  As ‘n skilder nie ‘n landskap plein-air  doen nie, is hy glo ‘n kwasi-skilder.  Soos met alle soortgelyke eg-Afrikaanse moddergooiery, grim ek ook hieroor in my binneste.  As dit dan vir ‘n fotograaf so ‘n uitmergelende plesier is om ‘n foto te neem, waarom sloof hy hom nog verder af om dit te photoshop?  Ek sou sê om dieselfde rede dat die plein-air skilder soms die deinserigheid uit ‘n sonsopkoms haal wanneer hy dit op sy doek weergee.  ‘n Ware kunstenaar, ongeag van die genre waarin hy werk,  is nie inhalig nie; hy het begrip vir die siel van sy mede-kunstenaar.  In die opregte kunstenaarshart is daar nie afguns nie, ook nie voorskriftelike vermaninge nie. 

Claude Monet en sy vriende, Auguste Renoir en Frederic Bastille het inderdaad in die buitelug gesit en skilder; Monet sy landskappe, Renoir  sy figure en portrette en Bazille sy argitektuur.  Tog was hulle die Impressioniste wat die meeste beïnvloed was deur die koms van die kamera tydens die Industriële Rewolusie. Sodanig so dat hulle latere werke,  asook die van Toulouse Latrec, Paul Cezanne, Vincent van Gogh en ander tydgenote, van fotos af gedoen is.  Dit was een van hulle eenvoudige vreugdes om oor ‘n kraffie wyn fotos uit te ruil, wat later bekende kunswerke sou word.  En hier, in die een en twintigste eeu, vlieg ‘n klomp amateurs mekaar in die hare oor kameras en kwasse!

 Carine Badenhorst

CarineSuikerBroodenSuurvye 3_1