“Kyk net daar, ‘n Afrika pikkewyn alleen op die rotse, skakel dadelik vir Wilfred Chivell,” het Anita Botha tydens ‘n wandeling op die nuwe hawemuur gesê. So gesê, so gedaan. Wilfred se vinnige kommentaar was: “Ek is 40 minute se stap van my huis af, maar ek skakel nou terug.” Wilfred se woorde het nog spreekwoordelik in die lug gehang, toe skakel hy terug. “Pieter is op pad om te gaan kyk.”
‘n Skrale 15 minute later, toe daag Pieter du Toit en sy twee seuns, Pieter (Jnr) en MJ op. Die twee seuns het versigtig agter die pikkewyn op die rotse om beweeg om te verhoed dat hy terug water toe beweeg, terwyl Pieter, gewapen met ‘n handdoek, versigtig nader beweeg het.
Die pikkewyn is sagkens, maar behendig met die handdoek gevang. Hy het die pikkewyn na die nuut-geopende hawe van veiligheid, die African Penguin and Seabird Sanctuary (APSS) aan die begin van die nuwe Kleinbaai/Franskraal teerpad geneem vir versorging totdat dit gereed is vir vrylating. Hierdie vinnige optrede terwille van ‘n enkele pikkewyn verleen gestalte aan hulle siening van “Every Bird Counts”.
Die sentrum is op 26 Februarie vanjaar amptelik geopen. Alouise Lynch van Dyer Island Conservation Trust sê daar is al 16 voëls vir versorging opgeneem, ‘n pikkewyn, kormorante, gannets en ‘n giant petrel. “Wanneer die seevoëls in die rehabilitasie gedeelte is, word besoekers nie agter die skerms toegelaat nie, maar hulle kan wel deur die ouditorium se vensters besigtig word, terwyl ‘n koppie koffie geniet kan word,” sê Alouise. Die pragtige en waardevolle African Penguin and Seabird Sanctuary kan daagliks vanaf 09:00 tot 15:30 besoek word.
Vir navrae rakende die sentrum en/of beseerde seevoëls, kan ‘n e-pos aan Dyer Island Conservation Trust by office@dict.org.za gestuur word, of skakel Alouise Lynch by 082-907-5607.
Hardus Botha