In die harwar van die daaglikse stryd om den brode, vergeet ‘n mens sonder enige kwade bedoelings dat jy jou bloed met iemand deel. Sommige mense verkies om te vergeet dat hulle iets soos familie het. Hoe ook al die meetsnoere val, kan geen sterfling daarop roem dat die rivier van die lewe wat deur sy of haar lyf spoed, unieke besit is nie. ‘n Stukkie van die renegaat-oupagrootjie of die miljoenêr-ontwerper-tannie – wat in elk geval niks met haar versukkelde familie te doen wil hê nie – klou vas in die rooi stof in die are-netwerk van jou lyf. Sonder bloed kan geen mens leef nie. Sonder die bloed van ouers en almal wat voor hulle die proses aan die gang gesit het, sou daar geen Jy gewees het nie en uiteraard ook geen nakomelinge aan jou tafel nie. Maar bloed bestaan nie net uit een element nie. Die selle, veral die rooies, versinnebeeld vir my die suurstofdraende asem wat broers en susters bymekaar hou. As daardie band gebreek word, gaan ‘n gesin dood, want daar is nie suurstof nie. Daar mag niks té erg, té groot of té klein wees wat verwydering tussen sibbe veroorsaak nie. Jaloesie, twis, onmin, en onverdraagsaamheid besoedel die hemoglobien wat die suurstof van broederliefde vervoer. Sibbe-liefde wat onderworpe is aan voorwaardes en voorskrifte is ‘n asmatiese, bors-benouende liefde wat die hart laat swaarkry. Die gelyksoortigheid van hul ouers se lewensriviere wat in hulle saamvloei behoort vereer te word met ‘n onvoorwaardelike en passievolle liefde vir mekaar.
Dis egter in die sytakke van die lewensriviere van families waar meer interessante gebeure en reaksies plaasvind. My familie is wyd verspreid oor Nambie en Suid-Afrika en persoonlike kontak is ‘n raritiet. Wanneer dit egter gebeur, vind ek ‘n hemoglobien-oomblik in elke groet. Die suurstofdraende gesels verkwik elke sel in my menswees. Niggies en neefs versinnebeeld vir my die kleinste volume van die samestelling van bloed : die 9% opgeloste stowwe. Hulle kom aan met allerhande familienuus.
Daar is stories van familie wat teenliggaampies vir mekaar opgebou het - glubolien in die bloed. Dan is daar stories van onmin waar die een die ander in die hitte van ‘n oomblik afgeskryf het - fibrogien wat die bloed laat stol het. Maar genadiglik bestaan daar in bloed ook ensieme, cholesterol en hormone. Goeies en slegtes. Regulerende stowwe wat dit wat stukkend is, herstel en dit wat toksies is, wegvat uit die sisteem uit.
Die interaksie tussen my ma en haar ses susters onthou ek in een woord as “vrolikheid.” Hulle het baie en maklik gelag wanneer hulle bymekaar was. By uitsonderlike geleenthede kon een van die broers eweneens uitbundig meedoen, maar die ander twee broers was meer gereserveerd. Hulle vroue het hulle deeglik laat onthou dat hulle Professor en Doktor was, selfs om die etenstafel van ons of Ouma se eenvoudige huisies. Hulle het ook gepraat van “my man, Professor....” en “my man, Doktor....” Ek kan goed onthou hoe die susters agteraf daaroor gespot het, sonder venyn of jaloesie. Dit was slegte cholesterol wat die bloed via statusbewuste en snobistiese egas binnegesypel het. Tydens familiebyeenkomste was die professor en die doktor altyd eerste om hul kinders bymekaar te maak en die begrafnis of partytjie te verlaat. As gevolg daarvan is daar baie min of geen kontak met sodanige niggies en nefies in my generasie. Om persoonlike redes en ‘n persepsie wat ek in my kinderdae oor familie gevorm het, het ek my nooit uitgegee as ‘n familievaste persoon nie. In die produktiewe jare hou jou eie gesin jou so besig dat familie en elk geval ‘n skim op die horison is. Dis egter wanneer ‘n mens na stiller waters vaar dat die bloedplasma die familie weer teëkom en dit soos hormone uit buislose kliere tot in die verlangkamer van jou hart vervoer. Dis wanneer e-posse net nie goed genoeg is nie, dat familiekuiers gebeur. ‘n Neef of niggie wat jy lanklaas gesien het, is soos adrenalien, die plesier-hormoon in jou bloed. Julle hou fees met spys en drank, dop die hele familie se laaie om, krap prestasies en skandes uit, lag vir sommiges se kaskenades en ween oor andere se leed. En ons mag, want familie het één ding in gemeen : bloed!
Carine Badenhorst