Die Voortrekkers het weer die “Groot Trek” aangepak vanjaar.
Vierhonderd jong, moderne Voortrekkers het in Augustus die Wes-Kaap, Vrystaat, Gauteng en Namibië verteenwoordig en met ossewaens oor die Drakensberg getrek.
Dit vorm deel van die Voortrekkerbeweging se 85ste bestaansjaar, met die tema ‘Trap nuwe Spore’.
Catharina Vice, ‘n Graad 8-leerder van die Overberg Hoërskool (Ovies), was een van die brawe meisies wat haar deursettingsvermoë bewys het en aan die moderne “Groot Trek” deelgeneem het.
Die Wes-Kaap span is gekenmerk deur hul groen pette. Elke provinsie se spanlede het ‘n ander kleur pet ontvang om hulle uit te ken.
Die ‘trek’ het vanaf Kerkenberg in die Oos-Vrystaat begin.
Die Retief-wa was eerste, gevolg deur die Maritz-wa en derde, die Wes-Kaapspan, gevolg deur die Uys-wa.
Ná twaalf kilometer en nege ure se grondpad op die waens, het vierhonderd moeë, twintigste eeu se Voortrekkers by die gewilde Drakensville vakansie-oord tot stilstand gekom, waar hulle hul ‘Trek’ met godsdiens afgesluit het.
Deur die voorreg wat hulle na die tog kon geniet om by ‘n moderne vakansie-oord uit te span, het hulle net weer eens besef hoe dapper hulle voorouers was om so ‘n trek onder uiters moeilike omstandighede aan te pak.
“Ek is voorwaar trots om ‘n Afrikaner genoem te word”, het Catharina afgesluit.