Pearly Beach se eie “Coffee Lounge”, met die fokus op plaaslike verskaffers en kunstenaars, van Willie en Tertia Groenewald is Saterdag, 1 Oktober 2016 bekendgestel. Gaste en kunstenaars kon die kunswerke in die “Coffee Lounge”, Groenewald Photo & Art, tydens die geleentheid besigtig en ook gesellig saam verkeer.
Enkele plaaslike kunstenaars het van hul kunswerke ten toon gestel.
Onder die genooide gaste was Radio Overberg (101.8) se omroepers, Pot Louw en Letty-Anne Möller. Pot, wat ook ‘n musikant is, het die gaste met ‘n verskeidenheid van sangitems vermaak.
“My hoofdoel met die Coffee Lounge is om ruimte vir plaaslike kunstenaars en verskaffers se uitstallings te skep, waartydens daar op ‘n gesellige wyse ook saam gekuier kan word, en wanneer nodig, sal gaskunstenaars gereeld genooi word om op te tree,” het Willie gesê.
Willie het na kunstenaars soos skilders, fotograwe, beeldhouers, die wynbedryf in die omgewing en andere verwys. Hyself is by Radio Overberg betrokke en is ook ‘n professionele fotograaf.
Willie beplan ook om piekniekmandjies met plaaslike produkte te bemark, soos Oudemeul se broodrolletjies en brode, Kleinrivier se kaasprodukte, Strandveld se wyne, slaghuise se biltong en andere.
“Pearly Beach se Coffee Lounge moet ‘n aangename kuierplek-omgewing skep, met goeie koffie, tee en ligte verversings,” het Willie gesê.
Hardus Botha