Overberg Distrik Jukskei Federasie het vanjaar, ná hul tweede bestaansjaar, met vier spanne aan die jaarlikse Suid-Afrikaanse Meesters Jukskeitoernooi in Kroonstad deelgeneem.
Die toernooi is vanaf 1 tot 7 Oktober 2016 aangebied en Overberg het vir die B, C, D en E-afdelings ingeskryf.
Die spanne was soos volg: B-afdeling: Jako Botes (kaptein), Toeks Moore, Stella Geldenhuys en Poppie Marais; C-afdeling: Carina Botha (kaptein), Hennie Henn, André van der Walt en Penny Davidson; D-afdeling: Willie Marais (kaptein), Jannie van der Vyver, Pieter Moore en Ria de Klerk; E-afdeling: Sarie Irish (kaptein), Erna van Logge-renberg, Annette Marais en Angie Ras.
Die Ope-Driespelkompetisie het Saterdag, 1 Oktober 2016 plaasgevind en Poppie en Willie Marais en André van der Walt het die tweede plek in die B-afdeling verower.
Met die Vierspel-wedstryde vanaf 3 Oktober 2016, en na een en twintig wedstryde, het Overberg met drie spanne, B-, C- en D-afdelings, silwer medaljes verower, waarmee die toernooi afgesluit is.
Overberg spog ook daarmee dat hulle uit twee en twintig distrikte algeheel tweede geëindig het.
Drie van Overberg se spelers het Meesterskleure verwerf: Carina Botha as kaptein van die Meesters Vrouespan; Toeks Moore as eerste gooier van die Groot Meesters Vrouespan; Jako Botes as afrigter van die Meesters Mansspan.
Overberg Jukskeibestuur poog om hul getalle uit te brei. Belangstellendes word genooi om die sekretaresse, Penny Davidson by 083-260-9019 te skakel, of die voorsitter, Jako Botes by 083-549-8678.