Agri Wes-Kaap is met reg baie trots op twee produsente wat onlangs twee gesogte toekennings huis toe gebring het.
Jacques Beukes, Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar vir 2016, is Donderdagaand 27 Oktober in Johannesburg as die Agri SA Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar aangewys. Hiermee het hy ‘n splinternuwe Toyota-bakkie gewen. Jacques boer met tafeldruiwe op die plaas Modderdrift in De Doorns.
André Cloete, wat op Caledon met vee, graan en vrugte boer, is tydens dieselfde geleentheid as die Toyota SA New Harvest wenner aangewys, die kategorie vir die belowendste jongboer uit voorheen bena-deelde gemeenskappe. André het ook met ‘n splinternuwe Toyota-bakkie weggery.
Agri Wes-Kaap se president, mnr Cornie Swart, sê hierdie prestasies is 'n bewys van die kundigheid wat in die Wes-Kaap se landbousektor opgesluit lê. "Die totale Wes-Kaapse landbousektor is geweldig trots op André en Jacques. Ons het groot waardering vir die onmisbare bydrae wat hulle tot die sektor lewer en vir die waarde wat hulle tot die landbou toevoeg. Hulle het die toekennings uit en uit verdien," het hy gesê.