Die kinders van Elim Tehuis vir Gestremdes in Gansbaai het Woensdag, 7 Desember hartlik saam gesing toe hul geskenke by hul woonplek afgelaai is.
Negentien barmhartige skenkers het gesorg dat al negentien inwoners van dié tehuis in die opgewondenheid van die feestyd kan deel. Die groep inwoners, waarvan die meeste kinders, word daagliks by die tehuis versorg.
Vanessa Ventura van die organisasie, Jesus Voetspore het vir die insameling, verpakking en aflewering van die pakkies gesorg. “Jesus Voetspore” is ‘n privaat liefdadigheids-organisasie en is alom bekend vir hulle jaarlikse skoendoospakkies propvol geskenke en lekkernye.
Die maatskappy reik uit na behoeftige bejaardes, gestremdes, siekes, behoeftige skoolkinders en minder bevoorregtes.
“Ons kan almal getuig dat Jesus ‘n afdruk van Sy voetspoor in ons lewe gelos het – Hyself of deur iemand anders,” vertel Vanessa. “Ons kan Jesus se voetspoor vir iemand anders wees en so hoop saai vir ‘n hoopvolle toekoms.”
Hester Smith het vir heerlike verversings gesorg.