Tanya Smit van Gansbaai Munisipaliteit: Operasionele Dienste, is gekeur om as skeidsregter by die 2017 World Eight Ball Pool Championships in Engeland te gaan optree.
Sy en vyf damespotspelers, asook die spanbestuurder, Anya Roux maak deel uit van die Suid-Afrikaners wat gekeur is.
Hierdie eer het Tanya te beurt geval nadat die South African Pool Referee Association (SAPRA) haar verlede jaar as verteenwoordigende skeidsregter van Suid-Afrika aangewys het.
Die kampioenskappe is vir 24 Junie tot 5 Julie 2017 in die Imperial Hotel, North Promenade, Blackpool in Engeland geskeduleer.
Die Suid-Afrikaanse span het hulself bewys as ‘n gedugte span vir die komende kampioenskappe, waaraan 14 lande vanjaar gaan deelneem.
Borgskappe gevra
‘n Toernooi soos hierdie, impliseer hoë kostes. Elke verteenwoordiger benodig ‘n minimum van R24 900.
Die bedrag maak voorsiening vir onder andere ‘n vliegkaartjie, 13 nagte se akkommodasie, visa-aansoeke, inskrywingsgelde en voorgeskrewe sport kleredrag.
“Ons het reeds met ‘n lootjielys begin wat sal help, maar wat onvoldoende sal wees,” sê Tanya. “Finansiële borgskappe word dringend benodig om te bepaal of die span wel na Engeland sal kan gaan al dan nie.”
Tanya stewig in skeidsregtersaal
Tanya het sowat 8 jaar gelede met Potspel (“Pool”) begin, en haarself binne 2 jaar as skeidsregter gekwalifiseer en dien tans as skeidsregter vir Western Province Country Region (WPCR).
Sy het vroeg in haar potspelloopbaan besluit haar eintlike liefde vir die spel is in die rol van skeidsregter gesetel. Sommer in haar eerste jaar as skeidsregter is Tanya tydens ‘n Suid-Afrikaanse Toernooi in 2012 as “Skeidsregter van die Toernooi aangewys”.
In 2014 ontvang sy haar Springbokklere as Potspel-skeidsregter vir WPCR in die Wes-Kaap.
Kontakbesonderhede
Belangstellende donateurs kan Tanya by 079 566 1930 skakel, of stuur ‘n e-pos aan haar by tsmit@overstrand.gov.za.