Huldeblyk: Suster Johanna Fourie het diep spore getrap

Huldeblyk: Suster Johanna Fourie het diep spore getrap

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

In die annale van Gansbaai se geskiedenis was daar baie manne wat diep spore getrap het, maar dikwels is die vroue, soos eie aan menige dorpsgeskiedenis, nie genoem nie. Gansbaai het sy eie kwota van die spreekwoordelike Spreuke-vroue opgelewer. Een daarvan was Suster Johanna Fourie.

Johanna Catherina Magrieta het gedurende September 1961 saam met haar gesin na Gansbaai verhuis. Sy was getroud met Phillipus Coenrad Andries Fourie en hul enigste dogter, Erna, was destyds drie jaar oud.

Sy was vanaf 1961 tot 1992 die distriksverpleegsuster op Gansbaai en was alombekend as Suster Johanna.

Haar ouers was ook gebore en getoë Strandvelders en vir 22 jaar het sy ook haar verswakte moeder, tannie Kato, versorg.

Johanna was ‘n onbaatsugtige en gebore verpleegster – na haar aftrede het sy ook haar man tot sy dood verpleeg. Johanna was die jongste van die bekende Lourens-familie van die Strandveld. Hulle was bekend as die Jakse. Byname was aan die orde van die dag, want die Lourense van die streek was talryk.

Suster Johanna was behoorlik opgelei in haar vak. Eers aan Groote Schuur Hospitaal aan die bekende Carinus Kollege en daarvandaan na Boksburg vir kraamopleiding.  Na haar troue met Philip het hulle op ‘n plaas in Caledon distrik gewoon en het sy ook gedurende dié tyd in Caledon Hospitaal verpleeg.

Haar distrik hier het die hele Gansbaai, Grootbos tot agter by Beebos, om die berg tot by Kleinbaai, Franskraal en Blompark ingesluit. Sy het in die beginjare alleen gewerk.

Die dokter van Hermanus of Napier het net af en toe hier besoek afgelê. Telefone was min, strate was nog nie geteer nie en van straatligte was daar nog geen sprake nie.

In daardie dae was suster Johanna ʼn bekende gesig met haar medisynekoffertjie as sy te voet mediese sorg gelewer het. Haar werk was soms moeilik, maar sy het  veilig gevoel en sowel wit- as bruinmense het haar altyd met respek en waardering behandel.

Sy was omtrent vir alles uitgeroep. Soms is sy met ʼn voertuig gaan haal, maar meer dikwels het sy maar te voet aangestryk om haar pasiënte te besoek en te versorg.  Volgens ‘n vroeër  onderhoud met Maureen Voigt van Seestrome, vertel sy van geboortes, siektes en wonders wat sy beleef het. Sy sê nadat sy die duisendste bevalling waargeneem het, het sy ophou tel. Sy dink daar was nog so 500 plus daarna .

Suster se verhale was talryk en kleurvol met tipiese ou-Gansbaaise humor. Die vrou met die bossie proteas as sy vir die hoeveelste keer haar swangerskap kom aanmeld, geboortes agter in ʼn bakkie se kap, van hartseer en swaarkry en frustrasies as ʼn dronk man amper sy vrou doodslaan en dat sy soms lus was om die dronkspul ‘by te kom’.

Haar lewe was onlosmaaklik deel van Gansbaai-gemeente en kerk. Sy en Annatjie Liebenberg was die eerste vroue-diakens en later ook saam met Sannie Kemp een van die eerste vroue-ouderlinge. Sy was 22 jaar lid van die kerkkoor. Sy onthou die bouery aan die kerksaal, die bome om die kerk wat deur die ouderlinge daar geplant is. Sy onthou Ds. Pretorius se gemaklike interaksie met almal. Veral toe haar man ʼn nuwe motor gekry het en dominee sê: ‘Philip, ek sien jy het jou Ford vir ʼn Fokkol (Vauxhall) geruil!’ Tot dusver Johanna se eie herinneringe uit Seestrome.

Suster Johanna was ook sestig jaar lid van die plaaslike Vroue Landbouvereniging waar sy ‘n aktiewe deelnemer aan alle aspekte van dié vereniging was – as kompeterende lid, spreker en bestuurslid.

Ek onthou ook vir suster Johanna met haar streng, maar ruim hart.

Ek weet dat arme Philip se hoeveelste pak nuwe pajamas saam met ʼn lyk die graf in is, omdat daar nie ander beskikbaar was as sy die lyk moes uitlê nie. Sy het die versorging van die liggaam van ʼn afgestorwene as die laaste eer beskou. Sy het dikwels na ʼn kraamgeval gehaas met ʼn boks vol kruideniersware – veral as dié koskasinhoud maar skraal was. Sy het ook  babaklere uit ‘n self-versamelde voorraad gehad vir die bloedjies vir wie daar niks voorberei was nie. Gansbaai se kinders en moeders wat onder haar hande deurgeloop het, was deeglik versorg. En ek weet ook dat sy wel ʼn dronkspul in die omgewing tydens een van haar talle bevallings met ʼn karwats bygekom het!

Die ou Gansbaaiers, van wie daar deesdae min oor is, onthou haar met deernis en dankbaarheid. Sy is onafskeidbaar deel van ons herinneringe.

Sy is na ‘n siekbed van ‘n paar maande by haar kinders, Ricky en Erna van Boom van St Helenabaai oorlede.

Suster Johanna was ‘n Spreuke-vrou en van haar kan ons hier op Gansbaai met reg sê:

Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal! Laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte. Spreuke 31:29 en 31.

Die  troosdiens van Suster Johanna is op Vrydag 24 Februarie om 11:30 vanuit die N.G. Kerk in Gansbaai.

Huldeblyk: Suster Johanna Fourie het diep spore getrap

SD Fourie skryf...

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Florilegium Developing Story

Florilegium Developing Story

These images tell a story that we plan to share using botanical art.

Grootbos Foundation
Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary!

Gansbaai Tourism
Gans-Berg News - 24 April 2026

Gans-Berg News - 24 April 2026

This week’s edition of Gans-Berg News brings you the stories shaping our community.

Gans-Berg Nuus / News
Rescue on the Move

Rescue on the Move

Every rescue begins with a journey.

BARC Animal Welfare
Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Volunteer Hamish Philipson has been with the Grootbos Foundation for the past two weeks to learn more about the work of the Grootbos Foundation.

Grootbos Foundation
When Inner Worth Meets Outer Reality

When Inner Worth Meets Outer Reality

It is about the gap between what we expect externally…

See All Articles