Twee van Gansbaai Medipraktyk se langasem-personeellede, Christine Dreyer en Elna Batt, het besluit dit is tyd om te gaan rus.
Christine tree af na bykans 24 jaar en Elna na bykans 15 jaar – dit was Dinsdag, 28 Februarie, albei se laaste werkdag.
Dr Marina Barnard, self ‘n “langasem” met 25 praktykjare in Gansbaai agter die rug, se eerste woorde met die groetslag was: “Ons gaan nie huil nie, hoor?”
Marina het altwee die vroue beskryf as besonderse personeellede wat oor jare heen hul poste met trots beklee het, maar terselfdertyd veelsydig in elke aspek van die spreekkamer was.
“Christine is as ontvangsdame aangestel en Elna as rekenkundige, maar albei van hulle het in die noodkamer en in die apteek ook gewerk” vertel Marina. “Hulle het ook oral afgelos en selfs vloere geskrop wanneer dit nodig was!”
Marina het Christine en Elna as vriendelik, behulpsaam en hardwerkend beskryf en bygevoeg dat die empatie en belangstelling wat hulle teenoor pasiënte betoon het, baie waardevol was.
“Hulle gaan baie gemis word en ek neem met gemengde gevoelens en emosies afskeid van hulle, maar terselfdertyd gun ek hulle die rus.”