Die voormalige Springbok rugby-afrigter, Peter de Villiers, is onlangs deur ‘n spesiale erewag deur Gansbaai Academia se o/16 en o/19 rugbyspelers verwelkom.
Peter vertel dat hy van die goeie vooruitgang by die skool verneem het, maar dat veral die opgang in rugby oor ‘n relatiewe kort tydperk hom beïndruk het.
Ná sy helde-ontvangs is hy amptelik deur die skoolhoof, mnr Tommy Wilson in sy kantoor verwelkom en onthaal. Die opgewondenheid onder die rugbyspelers kon aangevoel word.
Peter het op sy kenmerkende manier die gesprekvoering met die seuns begin en waardevolle rugbywenke is oorgedra.
Peter se sukses as Springbokafrigter het onder andere die oorwinnings teen die All Blacks van Nieu-Seeland en die Wallabies van Australië ingesluit, asook die wedstryd teen die Britse- en Ierse Leeus. Tans staan Peter in die pos van Direkteur: Rugby aan die Universiteit van Wes-Kaap.