Dit was ‘n behoorlike bontstanery toe die KleuterZone-filmspan Donderdag, 9 Februarie by Strandlopertjie Bewaarskool opgedaag het.
Die bedrywighede by die skooltjie is die oggend op film vasgevang en die kameras het die aand in die Gansbaai Primêr skoolsaal gedraai waar die Strandlopertjies hul liedjies gesing het.
Sowat 100 mense het vir die verfilming opgedaag. Soos klein mensies maar is, laat hulle hul nie altyd voorsê wat om te doen nie. Dit lei gewoonlik tot die beste herinneringe van ‘n besondere aand in mense se lewens.
Dit was opvallend hoe die gemeenskap van Gansbaai saamgestaan het om die bewaarskool gereed te kry vir die dag van die verfilming.
Na ‘n berig in die Gansbaai Courant het Chris en Petra van Rensburg van OK Foods Gansbaai ‘n naambord laat maak en laat monteer en Grootbos Foundation het spontaan opgedaag om die speelterrein te verfraai en ‘n broodnodige groentetuin aan te lê.
Lesers kan hul nou gereed maak vir die TV uitsending in April op KykNet se kanaal 147. Die datums sal later bekend gemaak word.