‘n Goeie vrou is die wenresep

Overberg Vroue Landbou vereninging (VLV) het sy 84ste Sirkelkonferensie op 15 Maart in Bredasdorp met die tema, Aanpasbare Vroue, aangebied.

Sowat 150 lede van Overberg VLV het die konferensie in die ruim Absa-saal van Overberg Agri in Bredasdorp bygewoon. Pragtige naaldwerk, blommerangskikkings en ander kunste, asook gebak- en gebottelde artikels is uitgestal. Die konferensie-aktiwiteite is onder voorsitterskap van die sirkelpresident, Rienie Lüdick aangebied. Rienie is ook die voorsitter van Gansbaai VLV.

Groeteboodskappe is deur raadslid Zukiswa Tonisi, Onderburgemeester van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, oorgedra.

 Raadslid Tonisi het die vroue van die sirkel aangemoedig om Overberg VLV-sirkel te vergroot deur meer vroue, wat mekaar kan help en ondersteun, te betrek.

Jan-Hendrik Human van die Bredasdorp Landbouvereniging, het op sy beurt groete-boodskappe van die boere-gemeenskap aan die vroue oorgedra. Hy het ‘n bejaarde, suksesvolle boer se wysheid met hulle gedeel: ‘n goeie vrou langs ‘n boer is ‘n resep vir sukses.

Die VLV-Kaaplandpresident, Karien van Schalkwyk, ‘n oud-Overberger, asook Cornie Swart, Agri Wes-Kaap President, het ook groete-boodskappe aan die vroue oorgedra.

‘n Mosie van dank aan alle Overbergse Landbouverenigings vir die skenking van voer deur mede-boere aan die droogte-geteisterde gebiede is deur die konferensiegangers aanvaar.

Die gasspreker tydens die sirkelkonferensie, Madri Bruwer, het waardevolle inligting oor Straatwerk-bedieninge in die Kaap aan die vroue oorgedra. Hierdie straatwerkers tree voorkomend op om te verhoed dat jong kinders in prostitusie verval en help met die opheffing en rehabilitasie van vroue in hierdie bedryf. “Deur elkeen van hierdie vroue se lewe loop daar lyne van trauma en aanvaarding as mens wat op ‘n sekere stadium van hulle ontneem is,” het Madri onder andere gesê. “Hier word die ‘Poppie’-projek met vrug ingespan om die uniekheid wat elke mens het, deur kunstig gebreide poppies tuis te bring.

Dr John Duminy, ‘n onkoloog van Hermanus, het as tweede gasspreker opgetree. Hy het na “Aanpasbare Vroue” verwys wat ook hul denke ten opsigte van kankervoorkoming en -behandeling vernuwe het. “Hulle skram nie weg van mammogramme nie en let op die voorkoming van sonskade en die gevare van rook,” het hy gesê.

In die kompetisie-afdeling het VLV-Bredasdorp gewys wat in hulle steek met die verowering van die Hugo-trofee vir die meeste punte wat behaal is, met Hermanus in die tweede plek en Gansbaai derde.

Die Gansbaai VLV-tak spog met 5 bekers wat tydens die Sirkelkonferensie ingepalm is: Die Consul Trofee vir die meeste punte behaal vir preservering, wat Miempie du Plessis van Gansbaai met Hermanus se Berta Koekemoer gedeel het; Die Presidentstrofee wat Gansbaai met Villiersdorp gedeel het; Ronel de Villiers wat die Mono Human Trofee ontvang het vir die mees uitstaande artikel in konferensie, Handvlyt en Kuns, asook Blommekuns vir haar uitstaande Quilling kaartjie wat sy gemaak het; Gansbaai het ook die Lydia Geldenhuys Trofee vir alle Kuns en Handvlyt artikels en Blommekuns ontvang.

Gansbaai-lede wat bygedra het tot die ontvangs van hierdie trofeë, is Ronel de Villiers, Rienie Lüdick, Sandra Badenhorst en Elizma de Lange. “Hartlike gelukwense aan al ons Gansbaai-lede wat aan die konferensiekompetisies deel-geneem het, Gansbaai VLV is trots op julle,” het Rienie Lüdick gesê.

Rienie Lüdick (links) van Gansbaai, Overberg VLV se Sirkel-president, saam met Raadslid Zikiswa Tonisi, Onderburgemeester van die Kaap Agulhas Munisipaliteit, tydens Overberg VLV se 84ste Konferensie in Bredasdorp.
Charlene le Roux (links) van Gansbaai het die 3de meeste punte vir die Gansbaai Trofee tydens die VLV Konferensie in Bredasdorp behaal. Langs haar is Sunette de Villiers, President, Worcestersirkel.
Miempie du Plessis (middel) van Gansbaai het, saam met Berta Koekemoer (links) van Hermanus die meeste punte behaal vir die Consul Trofee vir preservering. Regs is Sunette de Villiers, President van die Worcestersirkel.
GansbaaiCourantNew