“Alles werk nog net half”, skerts die 102 jaar oue tannie Mick (Anna) Viviers wat Vrydag, 17 Maart, haar verjaardag saam met haar huismaats van Huis Breda en haar kinders in Hoofweg, De Kelders, gevier het.
Tannie Mick het eintlik ‘n dubbele verjaardagviering gehad, deurdat Huis Breda die aand sy nuwe uitbreiding in Frankenstraat amptelik geopen het.
Ontmoet jy hierdie 102 jaar jonge dame en haar kinders, besef jy dat goeie gene beslis hier ‘n rol speel. Ouma Mick lyk nie ‘n dag ouer as 80 nie.
As ‘n nooi Mitchell wat in 1915 in Potchefstroom gebore is, het sy later die naam 'Mick' behou. Sy het in Desember 1941 mev Viviers geword, maar is reeds sedert 1991 ‘n weduwee wat haar in 2014 in Franskraal by haar seun, Jan en sy vrou Lulu kom vestig het.
Haar dogter Anita, woon saam met haar man, André Louw, in Somerset-Wes. Tannie Mick spog met 3 kleinkinders en 7 agterkleinkinders.