Laerskool Gansbaai se o/13 netbalspanne het Donderdag, 23 Maart 2017 in Bredasdorp gewys dat hulle kookwater netbal speel.
Die spanne het kragte gemeet teen Laerskool Bredasdorp, De Heide Primêr, asook 'n besoekende toerspan, Cheam van Surrey, Engeland.
Die Engelse span het aanvanklik na 'n klomp "bleek beentjies" gelyk, maar die Suid-Afrikanertjies het vinnig agtergekom dat hulle gedugte teenstanders is wat nog weinig van hul wedstryde in Suid-Afrika verloor het.
Laerskool Gansbaai se uitstekende spel het egter 'n oorwinning aan hulle oor al drie laerskole besorg - ook 'n eerste oorwinning in baie jare teen Laerskool Bredasdorp.
Die onoorwonne tellings was: Gansbaai (11) teen Cheam van Engeland (6); Gansbaai (27) teen De Heide (2); Gansbaai (8) teen Bredasdorp (4).
Nuwe rokkies vir o/13A
Laerskool Gansbaai se Eerste netbalspan (o/13A) het pragtige nuwe netbalrokkies - glo mooier as mooi, ontvang - danksy die mildelike borgskap van Gansbaai Superspar se De Wet en Morkel van Niekerk. Elke spanlid het ook 'n baadjie en rugsak ontvang as deel van hul uitrusting.
Chrizülene van Niekerk se puik organisering het vir die borgskap, ontwerp, bestelling en aflewering van die uitrusting gesorg en die skool voel bevoorreg om sulke ouers in hul midde te hê.