Fikse stappers kan hul voete begin brandspiritus smeer vir die Big2Town vasbytstap wat oor die naweek van 7 en 8 April plaasvind.
Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar dat die Overstrand Sportklub deel uitmaak van die stapbyeenkoms wat oor twee dae strek. Dit word ook in ander dele van die land deur die SAPD en ander Magte aangebied. Deelnemers reis so ver as van Gauteng af om in Gansbaai te kom deelneem.
Belangstellendes moet fiks genoeg wees om sowat 75km in twee dae af te lê.
Die roete strek vanaf die munisipale sportgronde, agter om die berg na Grootbos se kant toe, oor die R43, deur De Kelders en eindig die eerste dag na sowat 40km weer by die sportgronde.
Die tweede dag oor sowat 35 km begin weer by die sportgronde en stappers stap na Kleinbaai, Franskraal, oor die R43 deur Strandskloof Karavaanpark en draai na Uilkraalmond se kant toe, waar hulle strandlangs terugkeer en by die Danger Point ligtoring eindig.
Spanne kan uit 3 mans en 3 vrouens bestaan of ses mans of ses vrouens. Daar is ook afdelings vir veterane en seniors. Stappers kan as individue ook deelneem en minder fikse stappers kan vir slegs een van die twee dae inskryf.
Dit is ‘n geregistreerde IWASA-wedloop en medaljes en bekers word uitgereik.
Pretloop
Mense wat net vir die pret wil deelneem, kan die 8km roete stap. Daar is nog ‘n tekort aan waterpunte en enige instansie, individu of besigheid wat wil bydra tot die sportmanskap van die byeenkoms, kan met a/o René Human tel 028 384 0201 in verbinding tree.
Die fondse wat ingesamel word deur inskrywings, word aange-wend vir die Overstrand Sportklub.