German Lewis het homself reeds verlede jaar as ‘n uitstekende langafstandatleet bewys en sy Gr 7-jaar as Sportman van die Jaar afgesluit.
Hy begin sy eerste hoër-skooljaar uitstekend deurdat hy gekies is om vir Boland in Durban te gaan deelneem.
Die ywerig jong man het ingespring en self fondse begin insamel om sy koste te dek, maar groter finansiële hulp was nogtans nodig.
Gansbaai Lionsklub het van hom te hore gekom en besluit om te help.
Lion-president Marietta Hattingh en Lion Pieter de Vries het R600 bewillig, waarvan R100 as sakgeld gebruik kan word.
Hoewel German reeds toelating by Bredasdorp se Vaardigheidskool verkry het, het hy onderneem om eers vir Gansbaai Academia aan die atletiekbyeenkoms deel te neem.
Op die foto oorhandig Marietta Hattingh en Lion Pieter de Vries die geld aan die belowende jong sportman.