Vroeë kinderontwikkeling lê Nicolette Botha-Guthrie, voormalige burgemeester van die Overstrand Munisipaliteit na aan die hart.
Hoewel Nicolette nie meer hierdie portefeulje beklee nie, het sy onlangs haar laaste skenking vanuit die Nicolette Botha Trust, in Gansbaai kom doen.
Cool Kidz was die gelukkige kleuterskool wat 14 matrassies ryker geword het.
Liza Vos, hoof van die skooltjie wat langs die Family Church in Buitekantstraat geleë is, was uit haar vel uit van blydskap.
Sy vertel dat daar baie behoeftige kindertjies by haar skooltjie is – sommige met huishoudings wat slegs ‘n SASSA-inkomste ontvang.
19 kinders ontvang ook daagliks sorg na hulle skooldag by die laerskool.
Met die hulp van ‘Smart Brain’ is van die kinders met leerprobleme geïdentifiseer, maar hul ouers kan nie die ekstra uitgawe van remediërende klasse bybring nie.
Die skooltjie het ook ‘n ernstige nood aan tafeltjies en stoeltjies.
Liza beplan ‘n babakamer vir die nabye toekoms om aan die dringende versorgingsbehoefte te voldoen. Sy nooi almal wat van bababenodigdhede wil ontslae raak, om dit by die skool af te laai om sodoende die projek te bespoedig.