Dit was’n behoorlike “Rock -n-Roll” aand vir die gaste en lede van die Birkenhead Boothengelklub wat Saterdag, 1 April gehou is. Gaste het tot groot vermaak soos wafferse “Rock-n-Roll” sterre opgedaag.
Marié Nelson het selfs vir ‘n pienk motor gesorg wat uit daardie era dateer as deel van die saalversiering.
Die gesellige aand het met die prysuitdeling van die dag se hengelprestasies begin. Die voorloper in die manskampioenskappe, Danie Fourie, het met ‘n yslike bos lang gekrulde hare sy prys ontvang. Die vermoede bestaan dat Danie nie die haardos op sy kop gehad het tydens die kompetisie nie, want geen vis sou naby Ben Uys se boot, Oupa, gekom het nie!
Ben het hoeka die prys vir die swaarste bootgemiddeld ingepalm.
Die wedstrydsekretaris, Jean Downing, het die volgende kwytgeraak: “Vanaand is daar sommer twee manne wat uit die Foefiebeker sal moet drink, want vir hulle foute is daar nie pille om te sluk nie,”
Die verhaal begin by Leon Engelke wat bekommerd na sy bos sleutels begin soek het. Vele oproepe is gemaak en besoeke is afgelê by almal wat naamlyste van hengelaars het - die sleutels, wat hy nalatig op die kroegtoonbank agtergelaat het, moes gevind word.
Die een wat die meeste moeite gedoen het om vir Leon te help, was Philip Fourie, voorsitter van die klub. “Lang storie kort,” het Jean gesê, “die sleutels is einde ten laaste gevind - in voorsitter Philip Fourie se sak waar hy dit ‘bewaar’ het om uit te vind aan wie dit behoort, maar toe daarvan vergeet het!”
Die uiteinde van die saak was dat altwee uit die Foefiebeker moes drink: Philip wat help soek het na die sleutels terwyl dit in sy broeksak was en Leon oor sy nalatigheid om dit op die kroegtoonbank neer te sit.
Op die note van Jan Lourens se Musiekfabriek, die heerlike ete en dans, was al die gekskeerdery heel gepas so op 1 April-gekkedag en almal het gesellig saamgekuier.