Laerskool Gansbaai het op Saterdag, 22 April 2017 weer eens hul jaarlikse 7’s Rugbydag met groot sukses aangebied.
In die toekoms sal hierdie dag se wedstryde as die Overberg Wealth & Risk Management Sevens bekendstaan.
Vanjaar se deelnemende laerskole was Gansbaai Primêr (Blompark) en Laerskool Okkie Smuts (Stanford). Curro Hermanus en Kleinmond Laerskool het saam met Laerskool Gansbaai onderskeidelik in die o/9-, o/11- en o/13-vlakke meegeding.
Die o/9’s van Laerskool Gansbaai het in hul ouderdomsgroep met die louere weggestap met drie wenne en een gelykopwedstryd.
Onder die o/11’s was dit weer Laerskool Okkie Smuts wat met twee wen- en twee gelykopwedstryde Laerskool Gansbaai naelskraap geklop het.
Gansbaai moes ‘n bitter pil sluk toe hulle ‘n drie ‘n oomblik nadat die eindfluitjie geblaas het, gedruk het wat nie toegeken kon word nie.
Onder die 1ste spanne (o/13’s), was dit weer eens die span van Laerskool Gansbaai wat geseëvier het.
Hulle was die enigste span wat al vier hul wedstryde gewen het, waartydens hulle 16 drieë gedruk het en slegs 2 afgestaan het.
Die o/13’s van Laerskool Okkie Smuts was in die tweede plek met drie oorwinnings en Gansbaai Primêr in die derde plek.
AJ Bosch van Laerskool Gansbaai se o/13-span is na afloop van die dag as Speler van die Toernooi aangewys.
Laerskool Gansbaai bedank graag al die spelers, ouers, borge en ondersteuners wat tot die dag se sukses bygedra het.