Gallie Badenhorst se bevordering na die rang van Senior Brandweerman in bevel van die Groter Gansbaai en Stanford is welkome nuus.
Gallie se bevordering is terugwerkend vanaf 1 Mei vanjaar. Hy het homself lankal reeds as ‘n uiters bekwame brandweerman en leier in hierdie omgewing bewys.
Gallie het in 2000 as ‘n brandweerreservis aangesluit en is in 2010 permanent as brandweerman aangestel.
Vier jaar later word hy in 2014 as Waarnemende Senior Brandweerman aangestel. Gedurende dieselfde jaar ontvang hy ook die besonderse toekenning as “Brandweerman van die Jaar in die Overstrand”, ‘n uitmuntende en welverdiende prestasie.
Gallie se getroue diens wat hy oor jare heen met entoesiasme gelewer het, het nou in 2017 tot sy welverdiende bevordering na die rang van volwaardige Senior Brandweerman gelei.
Gallie is reeds sedert 1991 ‘n Gansbaaier en is met Anje getroud. Die egpaar het ‘n dogter, Eliska (8) en ‘n seun, Stephan (5).
Vir sy getroue diens en bevordering verdien Gallie sekerlik Gansbaai- en Stanford omgewing se opregte gelukwense.