Waggelstappers trek vrolik weg

Die waggel-waggelstap vir die beskerming van Afrika pikkewyne het met groot opgewondenheid en Caledon FM radiostasie se vrolike musiek begin.

Die omroeper het ook ‘n gesprek met Hayley McLellan, organiseerder van die stap, gevoer.  Hayley het  entoesiasties gepraat oor die doel van hierdie jaarlikse stap vanaf  8-13 Mei.

Dit staan bekend as die “Penguine Promises Waddle for a Week”.

Die groep het met plakkate, “hoot for penguins”, by die African Penguin and Seabird Sanctuary (APSS) in Kleinbaai weggespring.

‘n Groot groep Gansbaai-ondersteuners het saam met hulle tot oorkant Gansbaai SAPD se kantore gestap, waar afskeid van die stappers geneem is. Die stap duur 6 dae (± 120km) en eindig by Boulders Beach by Simonstad.

Die staptog word nie as ‘n fondsinsamelingsprojek beskou nie, maar wel as ‘n bewusmakingsprojek vir die bewaring van die marienelewe, maar dan ook spesifiek vir die Afrika Pikkewyn.

Die oomblik van waarheid het aangebreek. ‘n Laaste foto van die amptelike stappers vir die “Penguin Promises Waddle for a Week”, voordat die 120 kilometer oor ‘n tydperk van 6 dae na Boulders Beach by Simonstad aangepak is.
Vier van die amptelike Pikkewynstappers staan gereed met hul plakkaat om te begin stap. Vlnr Martine, Martin, Lisel en Frieda.
“Laat die pret begin!” met die amptelike Pikkewynstappers voor, waar die staptog by die African Penguin and Seabird Sanctuary in Kleinbaai begin het.
Gansbaai-ondersteuners het heel “fris” by Gansbaai se eindpunt opgedaag, waar afskeid van die amptelike pikkewynstappers geneem is.
Meredith Thornton van Dyer Eiland Bewaringstrust oorhandig die tradisionele Afrika pikkewyneier aan Siya Mafunda van die Boulders Pikkewynkolonie by Simonstad. Die seremonie dien as “Hoop vir die Afrika pikkewyn”.
‘n Deel van die Gansbaai ondersteuners neem finaal afskeid van die amptelike pikkewynstappers.
GansbaaiCourantNew