‘n Aand van Sterre! - Die aand is te danke aan Abduragmaan Adams, of te wel Ian October van die sepie, Suidooster, wat as eregas tydens Gansbaai Academia se sprankelende Cultivaria-aand opgetree het.
Hierdie geleentheid wat Donderdag, 11 Mei 2017 in Gansbaai Academia se stampvol saal plaasgevind het, bied leerders jaarliks die geleentheid om items van verskeie kunste te lewer - vanaf dans en voordrag tot sang.
Leerders van Roodewal Primêre Skool in Worcester het die gehoor vermaak met ‘n tradisionele rieldans en al wat kort gekom het, was die stof.
Die opvoeders het nie vanjaar teruggestaan nie en het gedeeltes uit die sepie, Suidooster opgevoer wat die aand se hoogtepunt was.
Leerders van Gansbaai Primêr het ook hulle talente vertoon met twee dansitems wat hulle gelewer het.
Die organiseerder van die aand, Patricia Zali (skeppende kunste en opvoeder), sê die Cultivaria-aand se sukses is te danke aan die talentvolle en hardwerkende studente.
Die aand het ook gelukkige wenners opgelewer.
Marveneen Pieterse en Lynette Dreyer het elk ‘n ete by Gansbaai Wimpy gewen.
Ian October het aan die gehoor, en veral die leerders, gesê dat hulle alles in hulle vermoë moet doen om na skool te gaan studeer en dat daar niks fout daarmee is om in die Kunste te studeer nie.