‘n Man wat vir huisbraak gearresteer is, maar daarna nie met enige van die sake verbind kon word nie, se samewerking met die polisie het tot die arrestasie van 8 vermeende boosdoeners gelei.
Die arrestasies met adjudant-offisier Vermeulen van Gansbaai speurtak aan die stuur, het in die Franskraal Karavaanpark plaasgevind in samewerking met die Overstrandse 'Cluster' Honde-eenheid. Die verdagtes het Maandag, 22 Mei 2017 in die Hermanushof verskyn waar borgtog teengestaan is.
Weens verdere ondersoek kon hul name nie bekend gemaak word nie.
Honde-eenheid by nog 4 arrestasies betrokke
Konst Meyer van die 'Cluster' Honde-eenheid het Vrydag, 19 Mei 2017 buurtwaglede begelei om spesifieke deurgangroetes aan hulle uit te wys. Tydens die tog het hulle op 4 verdagtes afgekom wat op pad was om te gaan inbreek. Hulle is in hegtenis geneem vir die besit van gereedskap wat gebruik word om in te breek, soos ‘n skroewedraaier, boutsnyer (bolt cutter) en ‘n koevoet (crow bar).
Die verdagtes is geïdentifiseer as betrokkenes by vorige huisbrake.
Hulle het Maandag, 22 Mei 2017 in die Hermanushof verskyn waar borgtog teengestaan is. Hulle name kan weens ‘n uitkenningsparade wat nog nie afgehandel is nie, nie bekend gemaak word nie.
Buurtwagte
‘n Ernstige beroep word op inwoners gedoen om by die onderskeie buurtwagte aan te sluit en om veral behulpsaam te wees met die ry van nagpatrollies.
Groter Gansbaai se buurtwag vereis lidmaatskap van AfriForum en dit is die moeite werd om dit ernstig te oorweeg om ‘n lid van die organisasie te word.
Almal wil snags veilig voel terwyl hulle tuis is, maar slegs ‘n paar mense is bereid om by die buurtwagte aan te sluit en behulpsaam te wees met onder andere, nagpatrollies. ‘n Volledige lys van die onderskeie buurtwaggroepe word gereeld in die Gansbaai Courant gepubliseer.
Nie net vir misdaad
Franskraal buurtwag, asook die inwoners van Franskraal, het getoon dat hulle nie net teen misdaad opruk nie, maar dat hulle ook ‘n helpende hand in nood kan uitreik.
‘n 69-jarige man wat aan Parkinsonsiekte ly het verlede week in Franskraal soek geraak. Die Franskraal Buurtwag en verskeie lede van die publiek het naderhand na die man begin soek, veral nadat dit op die Facebookgroep ‘Wie maak vir Gansbaai’ lekker geplaas is.
Onder leiding van Willem van der Merwe, van die Franskraal Buurtwag is hy opgespoor waar hy aan ‘n draadheining vasgehaak het. Hy het ligte snymerke opgedoen en was gedisoriënteerd toe hy gevind is. Hy het ook sy sonbril en gehoorstuk in die proses verloor.
Gesoek
‘n Verdagte, Francois May (27) op die foto hiernaas, word deur Gansbaai SAPD se speurtak gesoek vir dringende ondervraging.
Enigiemand met inligting waar die verdagte hom bevind, kan met Gansbaai SAPD se speurtak in verbinding tree by 028 384 0201.