Die VGK-gemeente se basaar verlede Saterdag het net van twee dinge getuig: groot dankbaarheid en groot joligheid.
Norman Sauls en sy span werkers se vooraf reëlings, harde werk en donasielyste is met ‘n stampvol saal en welverdiende suksesse beloon.
Die tafels, wat onder vele lekkernye gekreun het, het sommer vroeg-vroeg begin leeg raak.
Meer as 100 groot koeke is binne die bestek van 1½ uur uitverkoop.
Die warm geregte was so smaaklik dat ds Dirk van Dyk, wat die basaar geopen het, dadelik ‘n maalvleis kerrie-en-rys vir ontbyt genuttig het!
“Ons is dankbaar teenoor ons Skepper vir vandag se geseënde basaar, asook teenoor almal se harde werk, maar veral ook teenoor die gemeenskap vir die wonderlike ondersteuning wat van hierdie basaar ‘n uitsonderlike sukses gemaak het,” het Norman Sauls gesê.