Wynproeklublede was verras oor die uitstaande gehalte van die reeks uitvoerwyne wat Wildekrans Wynlandgoed aan hulle voorgestel het tydens die Gansbaai Wynproegilde se maandbyeenkoms in Mei. Kleinbaai se uithaler restaurant, The Great White House, het die komplimentêre disse saam met die verskillende wyne en vonkelwyn voorgesit.
Volgens die gilde se voorsitter, Theuns Roodman was dit ‘n voorreg vir die lede om wyne van hierdie gehalte te kon proe.
Die uitstekende wyne is die produk van Wildekrans Wynlandgoed, waar hulle wynmaker, Braam Gericke, sedert 2008 betrokke is.
Hy beskou sy belangrikste rol in die wynbedryf om deurgaans na ‘n goeie balans tussen wynproduksie, beplanning, vooruitskouings en bemarking te strewe.
Braam het deeglike ervaring by hoogaangeskrewe wynkelders opgedoen, terwyl hy ook vir twee agtereenvolgende jare as finalis in Agri Weskaap se Jong Boer van die Jaar kompetisie aangewys is.
Die uitstekende wyn (lede se beoordeling in hakkies) wat te proe aangebied is, is Wildekrans Wynlandgoed se Method Cap Classique Brut Rose (goud), Sauvignon Blanc 2017 (sterk silwer), Chenin Blanc Barrel Select (goud), Cabernet Franc Merlot 2014 (goud), Shiraz Barrel Selection (goud) en Cape Blend Barrel Select (goud).
Soos gebruiklik, was dit weer eens ‘n gesellige aand waar selfs besprekings oor die verskil tussen ‘witblits’ en ‘mampoer’ ter sprake gekom het - en dìt nogal tydens ‘n wynproebyeenkoms!