‘n Sekonde tussen lewe en tragedie

‘n Sekonde tussen lewe en tragedie

Gansbaai Courant

‘n Beleefde gebaar van ‘n sakeman in die Great White Junction, het Woensdag, 7 Junie waarskynlik sy lewe gered.

Hendrik Groenewald (Rikkie, soos almal hom ken) wie onlangs die Postnet konsessiewinkel in die sentrum geopen het, was oppad om uit die manskleedkamer te stap kort voordat ‘n gedeelte van die sentrum se dak ingestort het weens die erge wind wat met daardie dag se Kaapse storm gepaard gegaan het.

Die kleedkamer is op die linkerkant aan die einde van die wandelgang geleë en Rikkie was besig om die traliehek oop te maak om uit te stap toe ‘n ander persoon wou inkom.

Hy het beleefd teruggetree om die persoon te laat binnekom en ‘n paar sekondes getalm voordat hy die hek weer toegemaak het.

“Ek het skaars drie treë gestap toe ek die geweldige slag hoor en sien die dak stort ineen,” vertel Hendrik. “Ek het instinktief na die symuur gespring en sodoende die ergste deel van die massa bourommel en stene vrygespring.”

Sou hy die hek dadelik toegemaak het, het hy homself direk onder die grootste gedeelte van die dak bevind wat ineen gestort het.

“Ek glo daar was ‘n Hoër Hand betrokke wat my lewe vir my gespaar het,” het Rikkie gesê.

Een van die balke het aan die kant van sy kop neer getuimel, wat ‘n paar snymerke veroorsaak het en die plafonborde het sy onderlyf teen die vloer vasgepen.

“Ek het die plafongedeeltes probeer aftrek sodat ek kon opstaan, maar het vasgesit,” sê hy. Hy het pastoor Frikkie Zeelie gewaar en na hom geroep om te sê hy sit vas onder die bourommel.

“Behalwe vir die snymerke aan die kant van my kop, is net my voet wat vasgesit het effens dood en ek kan voel my skouer het ook in die proses seergekry.”

Overstrand Medical Rescue en ander noodwerkers was vinnig op die toneel en het die gebied afgespan. 

Spar is veilig verklaar 

De Wet van Niekerk van Gansbaai Superspar het gesê die grootste verligting was dat daar geen ernstige ongevalle plaasgevind het nie en hy besef dat dit veel erger kon gewees het.

Die winkel is dadelik ontruim en gesluit en kon eers Vrydag, 9 Junie 2017 omstreeks 15:00 weer oopgemaak word.

“Ons het vir die ingenieursbrief gewag om te verseker dit is veilig om oop te maak,” het hy gesê.

Die projekbestuurder, Deon Muller van Red Chair, sê die herstelwerk sal sowat 14-15 werksdae duur.

Die ineengestorte gedeeltes is reeds verder afgebreek en die rommel is verwyder. Die bou- en herstelwerk is in volle swang. 

Haarsalon 

Snippets Hair van Chantelle Gericke, wat direk langs die ineengestorte gedeelte van die dak geleë is, het die ergste deurgeloop.

Die haarsalon was in chaos gedompel, maar was ten tyde van die voorval reeds toe vir die dag.

Chantelle  en haar personeellede het die oggend om 10:30 gesluit en was nie in die salon toe die dak ingestort het nie.

“Met my aankoms by die chaos, het ek met groot hartseer in my staan en kyk na 10½ jaar van my harde werk,” het Chantelle gesê.

Van die salon se toerusting is beskadig, asook ‘n bank. In haar geval is die verlies aan inkomste groot, aangesien ‘n nuwe salon langs Overcell Vodacom vir haar in gereedheid gebring word.

“Dit sal nog sowat twee weke of langer duur voordat my nuwe haarsalon gereed is, maar intussen sit my vier personeellede tuis sonder ‘n inkomste,” het sy gesê. 

Ander winkeleienaars 

Ander winkeleienaars in die wandelgang met wie Gansbaai Courant onderhoude gevoer het, was dit eens dat hulle baie groot geskrik het. Vir sommiges het dit na ‘n ontploffing geklink.

Die grootste probleem waarmee  almal eens is, nadat die skok bedaar het, is die verlies aan inkomste.  Die winkeldeure was vir tot twee dae gesluit.

In The Crazy Store se geval het die winkel se valsplafon gesak.  Plafonne is volgens kontrak die huurders se eie verantwoordelikheid.

Die besigheid se hoofkantoor het hul eie kundiges beskikbaar gestel om die herstelwerk te doen. Met die ter perse gaan van hierdie berig was die winkel steeds gesluit.

Careen Fourie van Protea Flora het skade met haar voorraad opgedoen.

“My lelies het almal oopgemaak en ek het sowat 20 bakkies met plantjies weggegee wat nie meer verkoop kon word nie,” het sy gesê.

‘n Sekonde tussen lewe en tragedie

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

1 May 2024: Afval Pot and Skaap Pot

1 May 2024: Afval Pot and Skaap Pot

Come join us on 1 May 2024 for a tasty meal featuring our Afval Pot and Skaap Pot.

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

In Deel 12 sluit ons af met die twee egpare, Fanie en Judy Bothma van Franskraal en Dolf en Elna Nel van Saldanha...

Gans-Berg Nuus / News
Deadly Death Cap Mushroom

Deadly Death Cap Mushroom

Behold the Death Cap mushroom which was spotted in the Walker Bay Fynbos Conservancy. 

Grootbos Foundation
Front-Row Seats to Breathtaking Sunsets in the Gansbaai Harbour

Front-Row Seats to Breathtaking Sunsets in the Gansbaai Harbour

Experience the breathtaking sunsets of Gansbaai at N०1 Harbour Way!

N०1 Harbour Way
Deadly Death Cap Mushroom

Deadly Death Cap Mushroom

Behold the Death Cap mushroom which was spotted in the Walker Bay Fynbos Conservancy. 

Overstrand Tourism Diary: Weekend Events Schedule

Overstrand Tourism Diary: Weekend Events Schedule

Check out the latest Overstrand Tourism Diary for a weekend full of fun activities! 

See All Articles