Menige hengelaar maak gebruik van die geleentheid op see om ‘n toneel of gebeurtenis op film vas te lê en so uiting te gee aan hul gevoel van waardering van die natuur. Vir sommige is dit iets soos ‘n sonsondergang of ‘n groot seeskilpad of sommer net iets wat nie verlore moet gaan nie.
Ek vra vandag die kans om te verduidelik hoe ook ek dit wil doen. Wat ek benodig is ‘n foto geneem van ‘n roman of ‘n rooistompneus, maar dit sal ‘n uitsonderlike foto moet wees. Daarvoor benodig ek ‘n kundige fotograaf wat bereid is om saam see toe te gaan, in die regte toestande, vir daardie besonderse foto. Die idee is om die vis aan die lyn te kry en dan tot net onder die oppervlak te lei vir die geleentheid. Die helder water sal dan lewendig gehou word deur die aksie van die vis en so kry jy hopelik ‘n foto geneem wat ‘n “opgebreekte” beeld met helder kleure, maar steeds ‘n getroue weergawe van die rooiroman of PW sal lewer. Wat dan baie belangrik gaan wees is dat die vis onmiddelik na die fotonemery toegelaat gaan word om ongeskonde sy gang te gaan.
Dan volg die eintlike doel van hierdie hele episode - vanaf hierdie foto moet ‘n skildery gemaak word deur iemand wat die idee van dit alles sal verstaan en gestalte sal gee aan wat ek al so lankal voorsien. Stel jou voor, die helder kleure, die vis wat lyk asof dit beweeg en jy kan dit amper glo, die oë, wat lyk asof daar ‘n vonkel in is!
Hierdie skildery gaan ‘n ereplekkie êrens in die huis kry. Waar almal dit kan geniet. Met stiltetyd sal ek verduidelik dat hierdie vis nog iewers …hopelik ….vry rondswem. Met al my veronderstellings is dit heel moontlik ‘n onbegonne taak. Maar gebeur dit wel beteken dit iets wat in die toekoms net bewonder sal word.
Die gure weer het see toe gaan amper onmoontlik gemaak, maar terselfdertyd gee dit hoop op beter vooruitsigte. Ase is losgespoel, gate en sloepe behoort oop te wees en dat die vis gaan nader staan is vir seker. Geniet die see.
Seemeeu