Min mense is bewus van die karategroepie wat elke Maandag in die Blompark Gemeenskapsaal vergader.
Alhoewel hulle soos ‘n groepie jong kindertjies lyk wat rondstaan in gewone dagklere, is hulle gereed vir hulle eerstevlak karateka gradering, wat die betrokke middag kort na die fotosessie plaasgevind het.
Die energieke Enrico Delport is die Tweede Dan Sensei, wat elke week spesiaal uit die Kaap ry om hulle in dié gedissiplineerde vegkuns te kom oplei.
Renshi Billy Chellan, ‘n 6de dan swart gordel, lyk streng waar hy gereed staan om as gradeerder op te tree.
Wanneer hulle gradering-instrukteur praat, luister hulle onmiddellik en skielik besef jy dat die eed wat hulle weekliks in hulle Dojo Kun (Japanees vir vegkuns opleidingsaal) aflê, alreeds vir hulle betekenis inhou.
Die karatekas word geleer om te alle tye beskeie, oplettend, geduldig en eerbaar te wees.
Hulle streef na kennis, krag, onverstoordheid en vrede.
Hulle leer om hulself en dit wat aan hulle behoort, te respekteer, asook om ander en hul besittings te respekteer.
Alenore Baardman van Blompark tree op as sameroeper vir die junior groep kinders van 5 tot 15 jaar wat elke Maandag tussen 16:00 en 17:00 saam oefen sedert Februarie vanjaar.
Enrico sê hy sal graag ‘n senior groep van 16 jaar en ouer ook aan die gang wil kry.