Wanderlust

Wanderlust

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Die lewe is vir Tertia Slabbert ‘n aaneenlopende ontdekkingsreis. Van jongs af al wil sy net reis en ontdek, gesels en meemaak.

Die resepteboek wat hierdie veelsydige vrou saamgestel en self geïllustreer het - Cosmopolitan flavours for local yocals - vertel ‘n storie van die kosmopolitaanse lewe wat sy van Hillbrow deur Europa tot in Londen gelei het.

Kyk sy terug na haar lewe, bly sy steeds in hart en siel ‘n kunstenaar, want dit is immers wat sy gekies het om te studeer as jongmens.

Haar eerste reiservaring begin reeds in die vroeë 60’s toe sy as 20-jarige besluit het dat bladuitleg haar nie gaan vervul nie.

Sy klim op die Europa Cruise Liner in Durban, saam met ‘n joernalisvriendin en land in Venesië, vanwaar sy verder alleen reis na Griekeland, deur Joegoeslawië en begin werk soek in ‘n spierwit gesneeude Duitsland.

Haar pad lei na Londen waar sy in die ambassade werk en sonder haar medewete hanteer sy die immigrasie dokumentasie van haar toekomstige man na Suid-Afrika.

Sy leer ‘n bietjie van Fleet Street en keer terug vanuit die grou Brittanje na haar sonskynland, Suid-Afrika waar sy trou, twee seuns in die lewe bring en skei.

As enkelma wat die pot aan die kook moes hou werk sy bedags as Vroueblad-redaktrise vir die destydse dagblad, Die Transvaler. Sy word ‘n pos aangebied as bemarkingsbestuurder vir ‘n ouditmaatskappy (die eerste pos van hierdie aard in die land) en saans doen sy vertaalwerk.

Hierna beland sy in die versekeringsbedryf, waar sy 16 jaar later uitstap, nadat sy ‘n pos aangebied is as konsultant vir kleinvervaardigers.

In haar vrye tyd vaar sy saam met vriende in seilbote op die Vaaldam en toe die uitnodiging in 1996, op 55 jarige ouderdom na haar kant toe kom om ‘n seiljag terug te bring ná die Kaap-na-Rio wedren, laat sy haar nie twee keer nooi nie.

Haar boek oor hierdie twee maande lange, stormagtige reis na Kaapstad is in wording - die Terugtog. 

Die 1996 Kaap-na-Rio seilresies is gekenmerk deur windstiltes tydens die reis en uitermatige storms tydens die terugreis.

Toe die skipper verklaar dat hy nog nooit so ‘n storm in sy lewe aanskou het nie en nóg ‘n spanlid sê dat hy gereed is om sy Skepper te ontmoet en die kok aaneen skel, het Tertia haar na haar kajuit gewend en haar Bybel oopgeslaan. 

Sy het die gedeelte in Genesis gelees:  “… en daar was niks … en die Heilige Gees het oor die water geswewe…”  Sy het haar Bybel toegemaak en was nie weer een keer bekommerd oor hulle veiligheid nie.

Wat ‘n reis van 29 dae moes wees, het ‘n reis van 49 dae geword. (18 Februarie – 8 April).

Haar ervaring op die enigste twee eilande waar hulle aangedoen het op die roete - Ilha Grande en Tristan da Cunha  met sy fosforskynsel in die maanlig, dolfyne wat hulle vergesel en vliëende visse, ‘n spaghetti-anker tydens storms en ‘n albatros wat vir twee dae lank spierwit in die blou lug doodstil bokant hulle jag hang, was ervarings wat sy vandag steeds koester.

Hoewel die Kaap naby was, moes hulle nog steeds 36.38°S vaar sodat die ‘roaring 40’s’ hulle kon inblaas land toe - dit terwyl hulle nie meer vars water het nie en ‘n vars Dorado uit die see, sonder enige smaakmiddels, hulle van honger gered het.

Met haar seuns uit die huis en haar aanhoudende smagting na haar verfkwaste, verhuis sy na Kleinbrak om voltyds te skilder. Haar vreugde was van korte duur toe die Kleinbrak-huis verkoop word en sy ‘n ander vastrapplek vir haar voete moes kry.

Vandag woon sy in Gansbaai, met ‘n stoeptuin wat deur die onlangse windstorm verwoes is en ‘n uitsig oor die oseaan wat haar horison elke middag anders kleur.

Haar wêreldse besittings het weer staanplek gekry, sy vat hier aan ‘n verfkwas en sit daar voor haar rekenaar. 

Sy het pas ‘n muurskildery vir Tuscany Coffee Shop  voltooi, die Family Church is opgewonde oor ‘n inkleurboek wat sy ontwerp het vir die Sondagskoolklasse, dinge gebeur…. Maar sy is tot in haar siel verveeld. 

‘n Mens noem dit wanderlust… 

Wanderlust

Gansbaai Courant

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Why You Don’t Have to Say Yes to Everyone

Why You Don’t Have to Say Yes to Everyone

Always saying YES does not buy you worth.

Rewilding Festival and R1 Million Fundraising Goal

Rewilding Festival and R1 Million Fundraising Goal

GGAP has completed our mural gift for Mathilda at Groeneweide.

Choosing Exterior Paint Colours for South African Homes

Choosing Exterior Paint Colours for South African Homes

Bring a little South African colour home!

Golf Competition Results for 23 - 26 Sep 2026

Golf Competition Results for 23 - 26 Sep 2026

Golf Competition Results for 23 - 26 Sep 2026.

Gansbaai Golf Club
Meet the Woman Behind Elite Fires & Shutters

Meet the Woman Behind Elite Fires & Shutters

Behind Elite Fires & Shutters is Cornè Engelbrecht.

Elite Fires & Shutters
Overberg Geoscientists Group - October 2026 Newsletter

Overberg Geoscientists Group - October 2026 Newsletter

The latest Overberg Geoscientists Group newsletter is out!

See All Articles