Overberg Kushengelklub wou Saterdag, 22 Julie 2017 graag vir ander hengelaars wys hulle vang nie net “klein galjoentjies” soos in ‘n vorige berig vermeld is nie.
“Die lieflike mosselkraker van 7.7kg deur Oubaas Lesch is onder andere ‘n bewys daarvan,” vertel Elba Roux van die klub. “Oubaas was ook die trotse wenner van die dag, met Sihan Toua in die tweede plek.”
Elba verwys daarna dat hulle tydens die kompetisie net weer opnuut besef het hoe gelukkig hulle is om in Gansbaai-omgewing te kan bly.
Dit was ‘n perfekte hengeldag en goeie vangste is opgelewer. Saam met ‘n gesellige saamkuieraand met vriende by die Klubhuis, kan daar nie vir meer gevra word nie.
Die klub se bekwame fondsinsamelaar, Mynhard van Niekerk, het die pragtige bedrag van R1 100 onder die hengelaars ingesamel, wat aan Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes oorhandig sal word. “Die klub wil dan ook ander sportklubs uitdaag om ‘n bydrae aan ons plaaslike Tehuis vir Bejaardes te maak.