Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor gedroom - net een kon dit wen: Suretha le Grange van die Kaap.
Suretha, wat ‘n vakansiehuis in De Kelders besit, se ma, Elzane Steynburg, het die wenkoevert Dinsdag, 1 Augustus 2017 namens haar dogter in ontvangs geneem.
Die amptelike oorhandiging van die motor, ‘n wit Hyundai Grand i10 1.2, sal later plaasvind.
Die ander 4 finaliste was Johan Strydom (Kleinbaai), Hans Schilhorn (Franskraal), Nwabisa Mjou (Masakhane) en Steven du Toit (Gansbaai).
De Wet van Niekerk, mede-eienaar van Gansbaai Superspar het die 5 finaliskoeverte “geskommel” en Morkel van Niekerk, ook mede-eienaar, het die wenkoevert getrek. Riana Enslin van Gansbaai Superspar het met ‘n breë glimlag die wenner se naam uitgelees. Asof vanuit die niet verskyn, het Gansbaai Superspar se personeel bymekaargestaan, hande geklap en die wenner luidkeels toegejuig.
Die kompetisie is geloods deur die volgende winkels wat aan dieselfde groep behoort: Gansbaai Superspar, Bredasdorp Superspar, Kleinmond Superspar, Gateway Superspar in Hermanus en Eastcliff Kwikspar.
Die doel van hierdie jaarlikse kompetisie is om terug te gee aan die gemeenskap vir getroue ondersteuning.
Die kompetisie is ook apart van die jaarlikse Win-a-car kompetisie wat nasionaal deur Spar gereël word.
Bredasdorp Superspar het ‘n motor in die nasionale kompetisie gewen.