Gebed verander my
Richard Rohr skryf in sy boek “The Naked Now” dat ons nie bid om God te verander nie, maar om deur God verander te word. Hy bedoel seker dat ons ‘n slag teen die grein na gebed kyk. Dat ons soms dink God daar is om ons situasie te verander, maar eers moet ons Hom oortuig om anders te kyk en te sien soos wat ons sien en te verstaan wat ons wil hê. As gebed egter is om stil te word in God se teenwoordigheid en iets van God na ons toe weerkaats dan kan ons mos eintlik nie onveranderd bly nie.
Rohr beskryf dit as volg: “Prayer….is not an attempt to change God’s mind about us or about events…It is primarily about changing our mind so that things like infinity, mystery, and forgiveness can resound within us.” Gebed is dus om toe te laat dat God jou anders laat kyk en anders laat dink. Die Griekse woord “metanoia” wat ons met bekeer vertaal, beteken immers om anders te dink. Gebed is die wees in God se teenwoordigheid wat spruit uit ‘n verlange om deur God se Gees verander te word. Dit is natuurlik as ons wil verander? Die misterie van die mens is dat ons verkies dat almal rondom ons verander so lank ons maar dieselfde kan bly.
http://www.preke.net/index.php/h/1606-hande-of-biddende-hande