Blog

Bou aan vrede en versoening

Bou aan vrede en versoening

NG Kerk Gansbaai

Verootmoediging 8 November: Nelis Janse van Rensburg vra: “Bou aan vrede en versoening.”

Dag van gebed en verootmoediging: 8 November

Die onlangse vrystelling van die land se misdaadstatistiek, ’n vlaag plaasmoorde, die nuus oor die seksuele molestering van ‘n groot aantal skoolkinders, berigte oor kinders wat in bendegeweld omkom, die moord van nog talle ander onskuldige mense in hulle huise en talle ander berigte van werkloosheid en lyding het ons almal emosioneel ontwrig. Geen wonder nie dat almal wil uitroep teen die geweld in Suid-Afrika nie. Die #BlackMonday-optogte is tekenend van ’n nasie wat genoeg gehad het van onveiligheid, onreg en geweld. Ons wil protesteer. Ons wil opstaan en sê “genoeg is genoeg.” Dis immers Jesus wat sê “Geseënd is die wat honger en dors na geregtigheid.” Ons staan vir geregtigheid vir al Suid-Afrika se mense.

Maar Hy sê ook ons is geseënd wanneer ons vrede maak en barmhartig en sagmoedig is. Ons moet, terwyl ons protesteer, ook bou aan die vrede en versoening in Suid-Afrika. Ons moet met alle Suid-Afrikaners wat soos ons glo en dink hande vat. Ja, ons moet die middelgrond van ons samelewing hou, terwyl daar kragte en magte is wat ons wil polariseer en uitmekaar dryf. ’n Gepolariseerde samelewing beteken immers net meer pyn en ellende. Omvattende navorsing het aangetoon dat daar baie meer welwillendheid tussen Suid-Afrikaners is as wat die media, en dikwels ook die politici, wil laat blyk. Ons moet hierdie welwillendheid versterk.

Ons moet daarom nie die fout maak om in ons rou en woede teen die pyn wat mense aangedoen word, ander pyn toe te dien en te kwets nie. Om simbole van die apartheidsbedeling te vertoon, doen oneindige skade aan die persepsies oor ons verset teen die onreg in ons land. Dit stuur ’n baie slegte boodskap na mense wat gely het onder apartheid en wie se menswaardigheid daardeur aangetas is en maak mense oneindig kwaad en seer.

Ek was by Joubert Conradie se begrafnis in die Paarl. Die uitgesproke woede oor wat met hom gebeur het, is nooit oor ’n rasseboeg gegooi nie. Inteendeel, almal was uitgesproke daaroor dat dit gaan oor goed en kwaad en nie oor swart en wit nie. Ek weet ook dat dit direk in stryd met die bedoelings van die organiseerders van die #BlackMonday-protes was om die verset aan ‘ras’ te koppel. Die bedoeling was juis om teen alle geweld en misdaad in Suid-Afrika protes aan te teken. ’n Aantal individue het egter ’n skadu gegooi oor die bedoelings van hierdie aksie met simbole en optrede wat nie geassosieer kan word met ons styl van leef en standpuntinname nie. En dan was daar natuurlik diegene wat so gou moontlik daaruit politieke wins wou maak.

So laat ons protesteer én vrede maak. Laat ons die massa goeie Suid-Afrikaners, en ons geloofsvriende vanoor die hele land, bymekaar hou in ons verset teen die donker dade van mense wat nie ons oortuigings en waardes deel nie. Hulle is ’n kleiner minderheid wat ons moet bly isoleer deur ons verbondenheid aan mekaar oor alle taal- en kultuurgrense heen.

Droogte

Die krisisafmetings van die droogte in ons land is van so ’n aard dat almal van ons daaronder ly. Laat ons bid vir reën, maar laat ons ook bid vir genade vir ons landbougemeenskappe. Laat ons bid dat hierdie ’n tyd sal wees van ’n nuwe bewussyn van ons afhanklikheid van God.

Ons uitdaging is nou om in mede-landsburgers se skoene te gaan staan en te probeer voel wat hulle voel. Ons word uitgedaag om mekaar te troos en mekaar se hande te vat. Wie weet, oor ’n jaar of wat kyk ons dalk terug en bely dat hierdie woestyntye vir ons ’n tyd geword het van nuwe insig in die hart van God, nuwe toewyding en nuwe drome vir ons land.

8 November

Ons roep elke gemeente op om op 8 November geleenthede en ruimte te skep vir gelowiges om onsself voor God te ondersoek sodat ons rein van hart kan leef, om ons woede en vrese na Hom te neem sodat ons sagmoedig kan word, om ons liedere van klag aan Hom te rig sodat ons vry kan kom, om ons afhanklikheid van Hom te bely sodat ons die koninkryk van die hemel kan ontvang, om nuwe verbintenisse te maak om toegewyd te treur saam met die wat treur sodat ons vertroos kan word, en om vrede te maak sodat ons kinders van God genoem kan word (Matteus 5:3-12).

Nelis Janse van Rensburg
Voorsitter van die Moderamen
NG Kerk Algemene Sinode en Sinode van Wes-Kaapland

(Geen formele byeenkoms by Kerk in Gansbaai, informele byeenkomste welkom)

Bou aan vrede en versoening

Ds. Nelis Janse van Rensburg

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Congratulations to Grootbos which won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Grootbos Foundation
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

We're excited to announce that Grootbos won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Gans-Berg Nuus / News
Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf competition results for 17 - 21 April 2024.

Gansbaai Golf Club
SMEG Traditional Kitchen Collection

SMEG Traditional Kitchen Collection

Explore the perfect blend of style and practicality with the SMEG Traditional Kitchen Collection, now in stock at S Herholdt. 

S Herholdt
See All Articles