Gansbaai se befaamde fotograaf, Hugh-Daniel Grobler is ‘n ware aanwins vir die dorp.
Hy mag maar spog met vele groot pryse en prestige toekennings vir uitmuntende fotografie agter sy naam en waarmee hy ook al Gansbaai se naam hoog gehou het in menige tydskrifte.
‘n Paar kompetisies waar hy as wenner uitgetree het, is: Die Tamron-kompetisie, Shoot to Thrill; die tydskrif Weg se Foto van die Jaar; ‘n Camera Land kompetisie; Wild Fruit Juice se kompetisie; ZigZag Magazine en Die Burger en Cape Union Mart se natuurfotokompetisie.
Watersuiwering
Nog ‘n trotse en onlangse prestasie is ‘n prestige toekenning as “Beste Proseskontroleur Watersuiwering” wat hy saam met sy kollega, Farral Hendricks, ontvang het.
Hugh-Daniel is in Secunda, Mpumalanga Provinsie gebore, maar is reeds sedert 1990 ‘n Gansbaaier, waar hy ook sy skoolloopbaan deurloop het.
In 2007 het hy ‘n pos by Gansbaai Munisipaliteit se Watersuiweringswerke aanvaar, maar is met ingang van 1 November 2015 na Veolia Water Solutions uitgekontrakteer, wat nou sy werkgewer is.
19 Maart 2016 was egter die hoogtepunt in Hugh-Daniel se lewe. Hy en Johanndré de Wet, ook ‘n Gansbaaier en ook ‘n aanwins vir die dorp, is so stil-stil in die huwelik bevestig.
Dit was ‘n intieme strandtroue by Romansbaai wat deur Pastoor Frikkie Zeelie van Gansbaai AGS-gemeente voltrek is. Die onthaal is by die onthaalsaal van die ewe befaamde en bekroonde Strandskloof Karavaanpark aangebied.
Johanndré se ouers is Bendie en Karen de Wet, voorheen van Gansbaai, maar hulle woon sedert November 2016 in Baardskeerdersbos.
Die egpaar het gedurende Julie 2016 ‘n huis in Gansbaai gekoop en sê hulle is nou behoorlik gevestig.