Aanstap Rooies – dit was in hierdie gees van die ouetydse Volksliedjie dat die jaarlikse skemerstap op die 1ste dag van Maart aangepak is.
Dit was ‘n pragtige dag en die groep van sowat 70 deelnemers kon die sonsondergang vanaf Kleinbaai se sleephelling, kuslangs tot by die Strandveld museum geniet.
Die jaarlikse stapgeleentheid is ook ‘n fondsinsamelingsprojek wat deur Gansbaai Goue Hande ten bate van Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes gereël word.
Terwyl die inskrywingsvorms voltooi is, is die groep met ‘n glasie vonkelwyn verwelkom.
Die stappery word jaarliks gekenmerk deur gesellige samesyn en ‘n padlangse gekuier, sodat stappers nie eers agterkom hoe ver hulle eintlik stap nie.
By die Strandveld museum is daar wel sommiges wat met ‘n gekreun en ‘n gesteun tot ruste kom en op die grasperk neerval of in gemakstoele neersak.
Dit is egter alles die moeite werd, aangesien die geleentheid afgesluit word met eet- en drinkgoed, en as ‘n ekstra verrassing word paaseiers uitgedeel, waarna daar nog lank – soos wat jy net in die mooie Kaap kan doen - op die grasperk gekuier word.