Wanneer die wyse gryses van Herberg-aan-See op hul jaarlikse uitstappie na die uitkykpunt by die hawe gaan, is die strate in daardie omgewing in rep en roer.
Aangesien die senior burgers van hul eie wiele en kieries gebruik maak om tot daar te kom, vergesel die munisipale verkeersafdeling die groep met flikkerende blou ligte.
Heelparty vrywillige rolstoelstoters van Goue Hande sien om na die bejaardes en veelkleurige ballonne word uitgedeel om die prosessie op te vrolik.
By die uitkykpunt word die dors geles met koeldrank, terwyl die rolstoel- en kieriebrigade die mooi uitsig geniet.
Terug by die tehuis, word almal op vrugteslaai en roomys getrakteer, terwyl hulle in ‘n feestelike piekniekatmosfeer die vrolike klanke van Gansbaai Primêr (Blompark) se Marimba-orkes kon geniet.
De Kleine Gansies se kleuters het die oupas en oumas terug verwelkom by Herberg-aan-See deur liedjies te sing en prentjies wat hulle spesiaal geteken het, uit te deel. Geselsies tussen jonk en oud het met heelwat drukkies gepaard gegaan.