Moedersdag is bederfdag en verlede Sondag, 14 Mei was geen uitsondering nie.
Tydens o.m.G.e.e Bediening se erediens is kaartjies met die volgende raak ontleding van die woord ‘moeder’ aan die moeders uitgedeel:
(M)eesterstuk van God; (O)preg; (E)ngel; (D)ierbaar; (E)erlik; (R)egverdig.
Een instansie wat jaarliks lekker bederf word oor die tydperk, is Herberg-aan-See (HaS) se inwoners.
Gansbaai Goue Hande het kleurvolle geskenkpakkies met lekkernye uitgedeel, terwyl Laerskool Gansbaai se leerlingraad, onder leiding van onderwyseres, Marlene Koekemoer, dieselfde gedoen het. Hulle het ook allerlei geselsies met die oumas aangeknoop en drukkies uitgedeel. Seaview Cravings het gesorg vir ‘n yslike groot versierde koek en pragtige versierde kolwyntjies. Die oupas is sommer terselfdertyd ook bederf.