‘n Welkome toevoeging tot ons dorp se besighede is die konsessiewinkel, PostNet, wat in die Great White Junction oopgemaak het.
Agter die stuur van hierdie moderne onderneming staan ‘n gebore Gansbaaier, Rikkie Groenewald en sy oudste dogter, Adel Klotz.
Rikkie se pa, Pilla (95) is die eienaar van die bekende vistreiler, Berggans.
Sover bekend is Oom Pilla die oudste lewende, gebore Gansbaaier, asook die oudste, lewende skolier van Laerskool Gansbaai.
Pilla het natuurlik ook hier sy skoolloopbaan voltooi.
Adel woon sedert 2008 in Gansbaai en haar twee oudste kinders sit die Laerskool Gansbaai tradisie voort, met haar 12-jarige seun, Janiel (Gr 6) en 9-jarige dogter, Aldoné (Gr 3) wat ook hier skoolgaan.
Rikkie was vir ‘n groot gedeelte van sy beroepslewe as kernfisikus betrokke by Koeberg Kragsentrale.
Hy en sy gesin het in 1997 na Phalaborwa verhuis waar hy as fisikus by ‘n kopermyn werksaam was.
Die see het hom teruggeroep en hy en sy vrou, Lynette het in 2003 hier kom aftree.
Rikkie was egter gou verveeld en het met ‘n skadunetbesigheid begin wat later van tyd deur sy seun Francois oorgeneem is.
Na baie navorsing en oorweging het Rikkie vir Adel gesê hulle moet ‘n PostNet oopmaak, en dat hy dit met, of sonder haar sou doen.
Adel vertel laggend dat sy aan ‘FOMO ly. - “fear of missing out” - en sy het met baie vertroue in haar pa, vinnig op die PostNet-wa gespring.
Adel is met Cristiaan Klotz, ‘n ‘Suidwester’, getroud, wat homself sedert 2009 in Gansbaai bevind.
Die PostNet-pa en -dogter span staan gereed om hul klante vriendelik van hulp te wees en beoog om die gemeenskap van uitstekende koerierdienste, wye formaat- en verwante drukwerk, kopieerwerk, laminering, bindwerk en fotodrukwerk te voorsien.
‘n Verskeidenheid van skryfbehoeftes is ook beskikbaar.
Hou gerus hulle reeks dop!!