Die skepping se troos

Skriflesing    Mat 6:25-34

Ek hoor partykeer mense sê dat as hulle in die natuur is, raak hulle so bewus   van die Here.   Mense sê  hulle  voel  so naby aan die Here daar, daar langs die see, daar in die berge, daar tussen die blomme in Namakwaland, daar onder die sterrehemel van die Karoo. En dit is ook reg so. Deur die wonderbare skepping  raak ‘n mens bewus van die  Here wat agter dit alles sit. Wat dit alles so wonderlik  gemaak het. Ons het ‘n pragtige lied in die liedboek  daaroor, die bekende lied 464:          o,  Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou;  die son en maan, die aarde sterre wolke, hoe u dit elke dag so onderhou . . . dan moet ek juig my Redder en my God, hoe groot is U. Want deur die  hele skepping klink dit saam. Hoe heerlik Heer u grote Naam.  Dit word vertel dat Karl Barth op ‘n uitsonderlike mooi  Sondagoggend vir die kerkgangers gevra het wat  hulle in die kerk soek; hulle moet eintlik daarbuite wees om ook bewus te wees van die wonderlike Here.

Eintlik kan ‘n mens nie genoeg in die natuur te nie. Die  Here gebruik dit om ons steeds verwonderd te laat oor Hom, oor die grootheid van God.   En  veral ook  sodat ons soos die gelowiges deur die eeue bewus kan wees, telkens herinner kan word  dat die Here wat alles so wonderlik gemaak het deur Christus my Vader is wat vir my sorg.    Die Here gebruik die natuur om ons ook te bemoedig.   

 Die natuur, die bewus wees van die skepping en die Here agter dit is vir gelowiges eintlik gerustellend . Hierdie Here, die Almagtige God wat hemel en aarde gemaak het, hou ook hulle in Sy hand.   Dit is juis hieroor  wat  in Mat 6  geskrywe staan. Jesus praat destyds met die skare in die bergrede en praat met hulle oor die feit dat hulle hul nie moet bekommer nie.   Hy gebruik as een van Sy argumente  juis die kyk na die wilde voëls en die veldblomme en dat dit hulle sal herinner aan die sorg van die Here vir hulle.   Dit is darem pragtige tekste, v 26:   Kyk na die wilde voëls:    hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie;  julle hemelse Vader sorg vir hulle.   Is julle nie baie meer werd as hulle nie?  Let op hoe groei die veldlelies . Hulle swoeg nie en maak nie klere nie . Maar ek sê vir julle: Selfs Salomo  in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.   As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel  te meer sal Hy dan nie vir julle sorg ni, jullee kleingelowiges?       Julle moet julle dus nie bekommer en vra: Wat moet ons eet en wat moet ons drink en wat moet ons aantrek nie?. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is.   Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.   Jesus sê hulle moet kyk na die  natuur en kyk na die voëls en die veldlelies en daaraan dink hoe die Here vir hulle sorg. Dan besef ons  God sorg nog baie meer vir Sy kinders.   Hulle is tog nog baie meer werd as hulle.  

Daar is ook ander skrifgedeeltes  wat hierby aansluit. Dit bly vir my  altyd merkwaardig dat toe  Petrus en Johannes destyds gedreig was om nie van Jesus te getuig nie,    hulle hulle by die medegelowiges aangesluit het en hulle vertel het van wat alles die priesterhoofde en familiehoofde  vir hulle gesê het.   Dan staan daar in die Skrif dat toe die medegelowiges dit hoor,  het hulle almal saam tot God gebid en gesê:    Here dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is gemaak het . Hulle het tot die Here gebid, bewus van Hom wat alles gemaak het.  Hulle het tot Hom genader as die Skepper en die Een wat hulle ook beskerm en lei.       Dink aan  Ps 121: Ek slaan my oë op na die berge , waar sal my hulp vandaan kom. My hulp is van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. 

In aansluiting hierby lees ook Mat 10 waar Jesus Sy dissipels uitstuur om te gaan getuig. Hy sê vir hulle dat  hulle nie bang moet wees nie.  En gaan dan voort om hulle te herinner  aan hulle kosbaarheid aan die hand van die voorbeeld van mossies. Mat 10:29 Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val  sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.   Die punt is duidelik: deur die natuur, deur die skepping wil die Here ons herinner aan die feit dat Hy die Almagtige Skepper is van die hemel en die aarde,  en ook ons Vader wat vir ons sorg.    Geen wonder ons geloofsbelydenis begin met die woorde: Ek glo in God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde nie.  Ek glo dus nie net in God as Skepper nie, maar juis in Hom as die Een wat ook vir my sorg.   Jesus het ons leer bid:  Ons Vader wat in die hemel is . . . Ek lees  in die verband die volgende gediggie: Overheard in an Orchard. Said the Robin to the Sparrow:  I would really like to know why these anxious human beings  rush about and worry so. Said the Sparrow to the Robin: Friend I think that it must be that they have no heavenly  Father  such as cares for you and me. . .

Daar is  ook tekste  wat nou nie noodwendig die natuur as voorbeeld neem in verband met die sorg van die Here as Vader  nie,  maar hierdie sorg eweens  so merkwaardig verseker. Dink aan die volgende: Deut 1:31: Hy is ‘n Vader wat sy kinders dra soos ‘n man sy seun dra.    Deut 32: 10: Hy is ‘n Vader wat sy kinders vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.  Die bekende Ps 103: 13: Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.  So teer en eg, so omvattend is God se sorg vir ons dat die Bybel op ‘n paar plekke ook na God verwys as ‘n moeder: Jes 66:13: Soos ‘n moeder haar kind veilig laat voel, so laat Ek julle veilig voel. Hieraan kan ons veral dink as ons  na die mooie skepping kyk. Die Here verseker ons van Sy sorg, van Sy nabyheid, veral ook as ons deur swaar tye gaan. Dan veral, ons weet mos dat dinge ook vir gelowiges sleg skeef kan loop, Ps 23: al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, sal ek  nie bang wees nie, want U is by my.

Dit is baie nodig  dat ons wel in die natuur kom. Om stil te word,  om net weer as ware siel skoon te maak. Ek lees Willem Nicol skryf jare terug in sy boek Rykdom in eenvoud die volgende: Moet ons nie meer moeite doen om  nader aan die aarde te kom nie.  Maak tuin.  Gaan stap ‘n voetslaanroete. Loop in jou buurt rond en let op hoe die seisoenwisselinge daar lyk. Koop ‘n blomplant  of sit ‘n blomplant op jou lessenaar .    ‘n Mens kan daarby aansluit:  gaan loop langs die see, kyk na die berge. Raak opnuut bewus van dit wat so aangrypend mooi is. Dit is mos die een ding waarteen ons hier moet waak . . . om nie gewoond te raak nie en die mooi dinge nie meer raak te  sien nie. Ry  net ‘n keer  weer van Grootbos se kant op ‘n mooi dag en kyk regs, die baai en die berge. Daarom is retreats ook so belangrik vir besige mense om weg te breek en in stilte in die natuur bewus te raak van die Here wat ook vir ons so wonderlik sorg. Die Here wil dit gebruik om ons te bemoedig.

Ons moet  sin kan hê vir dit wat mooi is, al is dit oënskynlik eenvoudig. Dink weer aan die woorde van Jesus in Mat 6, om so te kon praat soos wat Hy  in Mat 6 praat, moes Hy oop oë gehad het vir dit wat mooi is.    Hy het nie gepraat van eksotiese kweekhuisblomme nie, maar sommer net van veldblomme  wat vandag nog daar is en môre verbrand word.   Ook ons  moet daarvoor sensitief wees. 

Hier in die maand September, die laaste Sondag, wil die Here ons herinner aan Sy sorg vir ons!