Die gelykenis van die oneerlike bestuurder

Skriflesing: Lukas 16

Teks: “Die Fariseers was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag. Hy sê toe vir hulle: “julle is die wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte” (Verse 14,15);

Teks: “Julle kan nie God en Mammon dien nie” (vers 13b).

Die gelykenis van die oneerlike bestuurder – in Engels: “the dishonest steward; the corrupt manager”. Die oneeerlike, korrupte rentmeester.

Hoe het hierdie gelykenis al vir Bybellesers laat frons en kopkrap.

Wat maak ons met hierdie gelykenis?

Iemand som dit reg op: “The confusing parable Jesus told”; Nog iemand: “Jesus’ weirderst parable”. Nog iemand: “Die gelykenis van die korrupte rentmeester is een van die mees uitdagende tekste in die Nuwe Testament”.

Hoe lesers en uitleggers en predikers met hierdie gelykenis sukkel, blyk uit die volgende opmerkings wat ek rondom die gelykenis raak gelees het:

Het Jesus ‘n grappie gemaak? (“Did Jesus make a joke?”);

Het Jesus dalk ‘n slegte dag gehad? (“Was Jesus having a bad day?”);

Waar is die goeie ou in die gelykenis? Hulle is almal skurke, skelms, boewe? (“Where is the good guy in this parable? They are all rogues!”);

“Does Jesus really justify corruption, theft, shrewdness?” (Praat Jesus regtig korrupsie, bedrog, diefstal, skelmagtigheid goed?); Gee Jesus ‘n skelm (hoewel dan ‘n slim skelm!)  ‘n kloppie die skouer?;

Miskien het Jesus hier van satire gebruik gemaak - het Jesus hier tong in die kies gepraat; met fynspot-humor en ‘n soort on-gelykenis Sy punt gemaak ?; ‘n on-gelykenis waarvan die betekenis in die teendeel gesoek moet word ?;  

Hoort hierdie gelykenis nie eintlik in die duiwel se bybel nie? (Would’nt this parable fits better into Satan’s bible?”).

En dan ook: ‘n Christen sakeman wat verklaar: “ek sukkel ook om my kop om hierdie gelykenis van Jesus te kry …”; maar: die soort wêreld waaruit hierdie gelykenis kom, dit ken ek baie goed”. 

Die christen sakeman skryf oor: ”pious rogues” – vroom skurke; oor “religious croocks”:  En dan skryf hy oor hierdie soort wêreld: daardie harde gewetenlose kant van die sake wêreld;

Daardie soort besigheidswêreld van “dog eat dog” (“hond eet hond”);

Daardie “cut-throat” wêreld van “whealing and dealing”;

Daardie wêreld wat gedryf word en gedomineer word deur harde eiebelang;

Daardie wêreld waarin profyt/wins/opbrengs – vir my sak, my beurs, my skatkis – tot die hoogste doel en strewe verhef is;

Daardie wêreld waarin die strategie en spelreëls van selfverryking ten alle koste oorheers;

Daardie wêreld van die “doel heilig die middelle” – en waar besigheid besigheid is – en onverskrokke grypsug en vaardige, intelligente bedrog tot ‘n deug verhef word wat respek by ander inboesem; 

Daardie wêreld van bedrieglike kontrakte met allerlei fynskrifte en skuiwergate;     Daardie wêreld waarin die gewete nie durf in die pad staan van persoonlike sukses nie;

Ja, daardie wêreld waarin daar geen plek vir moraliteit is nie – nie vir die moraliteit van waarheid en van opregtheid nie ;

Daardie wêreld waarin hierdie moraliteit van waarheid en opregtheid as die moraliteit van die swakkes, die verloorders (“the losers”) geag word … geminag word.  

Vraag: Moedig Jesus met hierdie gelykenis ons regtig aan om lesse vir ons christenskap uit hierdie soort wêreld te neem?; Moedig Jesus ons regtig aan om vir ons christenskap navolgingswaardige modelle uit hierdie wêreld te neem?; Moedig Jesus ons regtig aan om “pious rogues, religious croocks” te wees? 

Wat moet ons met hierdie gelykenis maak? Wat wil hierdie gelykenis vir ons oor God en God se koninkryk leer? Hoe wil hierdie gelykenis ons help om in ons verhouding met God?

(Ons weet dat Jesus se gelykenisse stories was wat Jesus vertel het. Hierdie stories het Jesus uit die bekende leefwêreld van Sy tyd geneem. En dan het Jesus hierdie storie so vertel dat dit godsdienstige betekenis of boodskap gekry het – mense is daardeur geleer en onderrig in hulle verhouding met God). 

Wat maak ons met hierdie gelykenis?

Ek wil suggereer dat sleutel tot die verstaan van hierdie gelykenis – tot ontdekking van die boodskap van hierdie gelykenis rondom die ons teksverse gevind word .

Let op: die oorspronklike adres van hierdie gelykenis … die mense vir wie Jesus met destyds hierdie gelykenis in die oog, in die visier gehad het, was die Fariseers.  

Om ons gedagtes te verfris: Wie was hulle?

In ‘n neutedop: hulle was die mense in hulle geslag wat aan hulleself gedink het as die goeie godsdienstige mense … die godsdienstige voorbeeldiges …;

Dit was hulle: mense wat vir hulleself goeie punte toegen het vir hulle liefde vir God en vir hulle gehoorsaamheid aan Sy gebooie; selfs mense wat op ander neergesien het en van ander afgeskei het: die mense wat in hulle oë, in hulle boekies, op hulle godsdienstige telkaarte die vervloekte goddeloses was …

By die huis: gaan kyk na die konteks van ons gelykenis – dit vorm inderdaad deel van ‘n groter gesprek waarin Jesus Sy oog, Sy visier op die Fariseers gehad het … dit begin by hoofstuk 15 van Lukas: in hierdie groter gesprek vertel Jesus met die oog op hulle vyf gelykenisse:

Een: die gelykenis van die verlore skap;

Twee: die gelykenis van die verlore penning;

Drie: die gelykenis van die verlore seun;

Vier: ons gelykenis;

Vyf: die gelykenis van Lasurus en die ryk man …

Met die eerste drie gelykenisse spreek Jesus hulle eiegeregtigheid aan (“selfrigthteousness”);

En met die laaste twee gelykenisse: hulle – hierdie in ons-eie-oë- die-godsdienstige-goeies – hulle … wat?

Wat maak ons met die gelykenis?

Ek persoonlik identifiseer met hierdie gebed: “Here, ek weet nie so lekker wat om met hierdie gelykenis te maak nie ..; maar: wat wel waar is, is dat waneer ek hierdie gelykenis in my Bybel lees, ek hierdie onontwykbare ervaring het: dat U ook baie diep inkyk in my hart … ”.

Ek sluit:

Hierdie maand spreek ons hier in die gemeente die saak van “rentmeesterskap" aan.

Die grondgedagte wat ons hierdie maand met mekaar deel, is hierdie gedagte: in die nuwe lewe waarin Christus ons Here is, staan ons ook in ‘n nuwe verhouding met ons geld, beursies, besittings.

Ons  staan in ‘n nuwe verhouding met Mammon – Mammon word ter wille van die heerskappy van Christus in ons lewens, die een vir wie ons nie dien nie …; voor wie ons nie ons knieë buig nie.

Ons verdien ons geld tot eer van Christus;

Ons besit ons geld tot eer van Christus;

Ons spandeer ons geld tot eer van Christus.

Christus is ons Here!

In ons nuwe lewe behoort ons met alles wat ons het aan Hom!